‘Só wen ek Spele-goud’
2012-02-18 22:54
Cameron van der Burgh het reeds sy besige sosiale lewe opgeoffer ter wille van absolute toewyding tot sy grootste droom.
En niks minder nie as Olimpiese goud sal dít die moeite werd maak.
Van der Burgh sal in Julie – met die hoop van ’n ganse nasie op sy skouers – in Londen aanland vir vanjaar se Olimpiese Spele, nadat hy homself die laaste drie seisoene gevestig het as een van die wêreld se voorste borsslag-swemmers.
Dié 23-jarige Pretorianer het sedert 2009 reeds 11 wêreldrekords gebreek en goud gewen by twee wêreldbyeenkomste (in die 50m-swembad en -kortbad) én die Statebondspele.
Die yslike opgang wat hy in 2009 en 2010 gemaak het, is egter verlede jaar tot stilstand geruk, toe hy met brons by die wêreldkampioenskappe in Shanghai tevrede moes wees.
Maar, het Van der Burgh vandeesweek gesê, dis dalk net ’n bedekte seën.
“Die man wat sake verlede jaar oorheers het, was Noorweë se Alexander Dale Oen en dan is iemand soos (die Olimpiese kampioen) Kosuke Kitajima ook baie gevaarlik,” het Van der Burgh gesê.
“Albei sal die Spele onder geweldige druk binnegaan, terwyl daar in dié stadium nie veel mense is wat wil weet hoe ek Olimpiese goud gaan wen nie.”
Volgens hom speel alles vanjaar tweede viool, omdat dié Spele “die grootste kompetisie van my hele lewe kan wees”.
“Ek het nou ’n kans wat ek nie durf verbrou nie. Wie weet of ek weer die kans sal kry om realistiese drome van Olimpiese goud te hê,” het Van der Burgh gesê.
“Verlede jaar het sy teleurstellings gehad, maar ek is nou veel meer volwasse in my benadering en oefenroetine. Daar is geen meer laat aande terwyl ek hard moet oefen nie en ek hoop om te sien hoe dit in Augustus vrugte afwerp.”
Hy sal hom net op die 100m-borsslag toespits.
Sy grootste sukses was in die 50-borsslag, maar dit is nie ’n Olimpiese nommer nie.
Die 200-borsslag is wél, maar Van der Burgh het hom nooit regtig ingegrawe in dié item nie en meen dit sal té veel aandag afneem van sy eerste mikpunt.
“Ek sal myself nie vergewe nie as ek aan die 200 ook deelneem, maar dan met net ’n silwer- of bronsmedalje in die 100m huis toe kom omdat die langer item te veel van my fokus geneem het,” het hy gesê.