Sokker: SA se jaar van skandes
2011-12-31 18:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
FEBRUARIE
* Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (SAFA) sit met eier op sy gesig, ná dit aan die lig kom dat Bafana Bafana se beplande wedstryd teen Burkina Faso nie sal plaasvind nie, omdat dit nooit gefinaliseer is nie.
* Bafana Bafana klop Kenia met 2-0. Davide Somma teken die eerste doel aan binne net 69 sekondes van die afskop af, en kaptein Steven Pienaar voeg kort voor halftyd nóg een by.
MAART
* Die SA sokkerspan reken met 1-0 met Egipte af, danksy ’n dramatiese wendoel deur die doelskieter Katlego Mphela in die doodsnikke van dié spanne se kwalifiserende groepwedstryd vir die Afrikabeker-toernooi.
APRIL
* Bafana behaal sy beste wêreldranglysposisie sedert 2005, toe hy opskuif na 38ste.
MEI
* ’n Raap-en-skraap-Bafana-span klop Tanzanië (112de op die wêreldranglys) 1-0, danksy ’n doel deur Shaban Nditi in die doodsnikke van die wedstryd.
* Orlando Pirates word gekroon as Premierliga-kampioen ná hy op doelverskil bo-aan die punteleer eindig. Pirates en Ajax Cape Town eindig op 60 punte, maar Pirates se doelverskil van +18 troef die Kapenaars se +14.
* ’n Week later verseker die Johannesburgse span ’n sonderlinge driekuns aan titels, toe hy die Nedbank-beker voeg by die PSL-kroon en die MTN8-titel wat hy in Oktober 2010 gewen het.
* Manchester United wen sy 19de Engelse Premierliga-kroon (meer as enige ander span), toe ’n gelykop-uitslag teen Blackburn Rovers sy plek bo-aan die punteleer verseker.
* Sy buurspan, Manchester City, wen die FA-beker deur Stoke City in die eindstryd 1-0 te klop.
* Barcelona word as Europese kampioen gekroon, ná hy Manchester United in die eindstryd van die UEFA-kampioenetoernooi met 3-1 wen. Die Spaanse reus wen ook die La Liga-reeks, die Spaanse Supertrofee en UEFA-supertrofee.
JUNIE
* Doelwagter, Ithumuleng Khune is Suid-Afrika se held in hul doellose gelykop-stryd teen Egipte – ’n uitslag wat Suid-Afrika ’n treetjie nader aan kwalifisering vir die Afrika-nasiesbeker bring.
JULIE
* Die Engelse klubspan Tottenham Hotspur wen die Vodacom-uitdaagtoernooi, ná hy in die eindstryd teen Orlando Pirates met 3-0 seëvier. Dis Spurs se enigste oorwinning van die kompetisie – hy het met 0-1 teen Kaizer Chiefs afgetjop en met 1-1 gelykop gespeel teen Pirates.
AUGUSTUS
* Bafana klop Burkina Faso met 3-0 in ’n kwalifiserende groepwedstryd vir die Afrikabeker-toernooi op Coca-Colapark.
SEPTEMBER
* Orlando Pirates klop sy aartsvyand, Kaizer Chiefs, met 1-0 in die eindstryd van die MTN8-kompetisie.
* Suid-Afrika se kans om vir die Afrika-nasiesbeker te kwalifiseer, kry ’n knou toe Bafana met 1-2 teen Niger vasval.
OKTOBER
* In of uit? Dís die vraag wat Bafana Bafana se ondersteuners vir ’n aand in Oktober herhaaldelik vra, ná hul helde aanvanklik feesgevier het asof hulle vir die Afrika-nasiesbeker van 2012 gekwalifiseer het – net om te hoor hul draal-taktieke in dié moet-wen-wedstryd teen Sierra Leone in Nelspruit (wat gelykop geëindig het) het hulle van hul kans daartoe ontneem.
DESEMBER
* Pirates wen sy vyfde titel binne net meer as ’n jaar, toe hy Wits in die eindstryd van die Telkom-uitkloptoernooi met 3-1 klop.