Tarzan van die tennisbaan
2012-02-04 22:48
So dís hoe King Kong in mensvorm sou lyk.
Of Tarzan met ’n borselkop.
Dit was met ’n uitdagende houding en ’n mal trek om die mond dat die groot aap eens op New York se Empire State-gebou en Edgar Rice Burroughs se storieboek-skepping op ’n tak êrens in ’n Afrika-oerwoud uitgebeeld is.
En waarmee ’n ánder fenomeen verlede Sondag sy emosies gewys het. Met ’n kaal bolyf en sy geskeurde hemp iewers op die grond agter hom het hy daar gestaan: Novak Djokovic, die nuwe alfa-man van wêreldtennis.
Djokovic het sewe dae gelede in Melbourne gewys dat sy enorme 2011 – die jaar van drie Grand Slam-titels, nóg sewe ATP-krone en ’n wenpersentasie van 91% – geen gelukskoot was nie, deur ná ’n bomenslike poging koning te kraai in die marathon-eindstryd van die Australiese Ope.
Dit was die Serwiër se derde agtereenvolgende Grand Slam-sege.
Sy vierde in vyf grotes.
En sy sewende sege op ’n ry oor die wêreld se naasbeste speler, Rafael Nadal.
Hy het gewen ná ’n stryd van 5 uur en 35 minute, om te voeg by ’n halfeindstryd wat 4 uur en 50 minute geduur het. Binne 48 uur het Djokovic in twee wedstryde meer as 10 stelle, 98 potte en 614 punte gespeel – maar van êrens die energie gekry om fees te vier deur sy hemp te skeur en op sy bors te hamer.
Daardie uitlating van emosie was die gepaste einde aan ’n dag vol teater – ’n skouspel van twee gladiators op hul allerbeste, wat deur die pyngrens, teen hul eie vertwyfelinge en teen die vasberadenheid van ’n vurige teenstander moes speel.
Dat dit Djokovic was wat laaste gelag het, was niks minder as verstommend nie. Vroeg in die vyfde stel, ná hy en Nadal reeds meer as vier uur gespeel het, het Djokovic harder geblaas ná elke sarsie. In ’n stadium was hy so moeg dat hy sy raket nie van die grond kon optel nie.
“Jy gaan deur soveel lyding; jou tone bloei,” het Djokovic ná die stryd volgens Australië se Herald gesê. “Dis waansinnig, maar jy geniet steeds die pyn.”
Onder die omstandighede, het hy bygevoeg, was Sondag s’n sonder twyfel die beste wedstryd waarin hy nóg gespeel het.
“Dit kon enige kant toe gegaan het, dit het amper ses uur geduur, dit was ’n Grand Slam-eindstryd en ’n oorwinning teen dié beste teenstander.
“Dit was alles die moeite werd.”
Ná só ’n sege is dit onafwendbaar dat die wêreld oor Djokovic se plek in die geskiedenis sal begin praat – en nie soseer omdat hy gewen het nie, maar oor die manier waarop hy gewen het.
Onthou, dié is ’n speler wat net meer as ’n jaar gelede nog sy nederlae op allerhande skete blameer het en sy skouers baie vinnig laat hang het.
Nou staan hy op die drumpel van grootsheid. Hy is reeds net die vyfde man wat drie Grand Slam-titels op ’n ry kon wen.
Seëvier hy in Junie in die Franse Ope, word hy net die tweede man (naas Rod Laver) wat al vier groot krone hou.
En verdedig hy sy Wimbledon- en Amerikaanse Ope-titels, behaal hy die eerste kalenderjaar-Slam sedert 1969.
Is dit onwaarskynlik?
Wel, die pad is nog lank – en met ’n reuse-teiken op sy rug wag daar baie duwweltjies.
Maar, vra die mense wat aan die einde van 2010 gesê het Djokovic sal nooit die temperament hê om meer as ’n byspeler te wees nie wat hulle nóú dink.
“Onwaarskynlik”, het hy reeds gewys, is net ’n woord.