Vergete Mulaudzi kry 2de asem
2012-01-07 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die vergete man van Suid-Afrikaanse atletiek, Mbulaeni Mulaudzi, het ’n tweede asem by sy “nuwe, ou” afrigter, JP van der Merwe, gekry.
Terwyl almal wonder wat van dié voormalige 800-breker geword het, lê hy stil-stil in Johannesburg die grondslag vir ’n opmars na die Olimpiese Spele in Londen.
Dit gaan, trouens, só voor die wind sedert hy terug is by Van der Merwe, dat Mulaudzi in Maart in Istanboel, Turkye, by die binnenshuise wêreldkampioenskappe gaan aantree.
Hy spog met ’n besonderse rekord by dié byeenkoms: hy was in 2004 in Boedapest eerste – en tweede in sowel 2006 (Moskou) as Valencia, Spanje (2008).
Hy is natuurlik ook in 2009 in Berlyn as (buitemuurse) wêreldkampioen gekroon en hy was in 2003 in Parys bronsmedalje-wenner. By die Olimpiese Spele was hy in 2004 in Athene tweede.
Hy spog reeds met ’n beste tyd van 1:42.86 – ’n tyd wat deur net een ander Suid-Afrikaner, Hezekiel Sepeng (1:42.69 in 1999), oortref is.
Einste Sepeng het Mulaudzi begin afrig, nadat dié se paaie met Van der Merwe geskei het. Van der Merwe was, ironies genoeg, Sepeng se jarelange mentor en die man wat hom in 1996 in Atlanta tot Olimpiese silwermedalje-wenner en drie jaar later in Sevilla, Spanje, tot silwermedaljewenner by die (buitemuurse) wêreldkampioenskappe gebrei het.
Onder Sepeng het Mulaudzi min uitgerig.
Die laaste wat rêrig van Mulaudzi gehoor is, was toe hy verlede jaar in Mei tweede in Rome was. Sy tyd daar – ’n vir-hom-uiters-beskeie 1:45.50 – was ook sy beste van 2011.
Dít vergelyk maar ietwat bedroewend met sy buitelandse broers: die Keniase wêreldrekordhouer David Lekuta Rudisha was 2011 se vinnigste met ’n 1:41.33, gevolg deur Abubaker Kaki van Soedan (1:43.13) en die Keniaan Asbel Kiprop (1:43.15).
Mulaudzi (nou 30) is verlede jaar aanhoudend deur ’n knaende laerug-besering geteister.
Sedert hy hom weer by Van der Merwe aangesluit het, het hy nog nie weer internasionaal gesig gewys nie.
Peet van Zyl, sy agent, sê Mulaudzi ondergaan deesdae rehabilitasie vir die besering in Morningside, Johannesburg.
“Dis ’n uiters professionele opset en behoort hom te pantser in sy opmars na Londen. Die plan is dat hy in Februarie aan so drie binnenshuise byeenkomste in Europa gaan deelneem om hom vir die binnenshuise wêreldkampioenskappe reg te kry,” sê Van Zyl.