Wit Buffel wil Sonny Bill gaffel oor Bryce
2012-02-18 22:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Francois “Wit Buffel” Botha wil die groot wens van elke Suid-Afrikaanse rugbyliefhebber bewaarheid deur die All Blacks se Sonny Bill Williams te laat sterre sien.
En as die voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld sy sin kry, doen hy dit sommer “iewers tydens rustyd van ’n rugbywedstryd” en met sy “een hand agter sy rug vasgemaak”.
“Of sommer albei, want daai mannetjie is nie in my klas nie,” het Botha in ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport gesê.
Botha se gereelde vegknoper, Thinus Strydom van World Sport Promotions, het bevestig dat Williams se agent, Khoder Nasser, gekontak is vir ’n moontlike geveg tussen Botha en die All Black, wat sy land ook in rugbyliga verteenwoordig het.
Dit kan aan die einde van die jaar in Suid-Afrika plaasvind.
Dié geveg behoort groot belangstelling gaande te maak, veral ná Williams – wat daarvan beskuldig word dat hy teen minderwaardige teenstanders veg – vroeër vandeesmaand die Nieu-Seelandse swaargewigtitel gewen het deur Clarence Tillman in die eerste rondte van hul geveg uit te slaan.
“Hy verdien dit eintlik nie om teen my te boks nie, want hy hoort nie in dieselfde kryt as ek nie,” het Botha gesê.
“Hy lyk dalk goed op die rugbyveld, maar hy is alleen in die kryt en daar kan sy 14 spanmaats hom nie help nie. Kom ons kyk wat maak hy dán.”
Botha meen hy sal alle rugbyspelers wat Williams op die veld wil bykom, maar nie mag nie, ’n reuse-guns bewys deur die senter droomwêreld toe te stuur.
Botha is ’n ondersteuner van die Springbok-rugbyspan en deur een van die All Blacks se voorste sporthelde plat te slaan, sal hy sommer kan wraak neem vir die omstrede beslissings van die Kiwi-blaser, Bryce Lawrence, in die Wêreldbekertoernooi, wat uiteindelik Nieu-Seeland se pad na die Webb Ellis-trofee makliker gemaak het.
“Ek berei tans voor vir my herontmoeting met Michael Grant in Florida oor ’n paar maande en is lekker fiks. Ek beplan om Grant vinnig uit te haal. Dalk moet Williams eers teen iemand soos Danie Venter (’n plaaslike swaargewig) hier veg om te wys hy is die moeite werd,” het Botha gesê.
Intussen wou die sportpromotor, Willem Strauss, nie bevestig dat Williams in Desember in die nuwe sewesreeks, die 7’s PL-toernooi in George gaan speel nie. Rapport het verlede week berig oor dié toernooi, wat ’n wenprysgeld van R1 miljoen het.
“Hy sal groot waarde tot die toernooi toevoeg, maar ons het nog nie met spelers oor hul deelname aan die toernooi onderhandel nie,” het Strauss gesê.