AB sal rollle baasraak, sê Amla
2012-11-17 23:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis net ’n kwessie van tyd voordat AB de Villiers weer sy beste kolfpeil herwin én diegene verkeerd bewys wat meen sy paaltjiewagterspel is nie op standaard nie, sê Hashim Amla.
Dié bebaarde lopievraat het vandeesweek vir sy Protea-spanmaat in die bresse getree nadat Ian Healy, die voormalige Australiese paaltjiewagter, gekap het na die Suid-Afrikaanse spanbestuur se besluit om De Villiers in dié rol in te span in die toetsreeks Doer Onder.
“Elkeen van ons in die span wéét AB kan albei rolle vertolk en steeds sy hemelhoë standaarde as paaltjiewagter én kolwer handhaaf,” het Amla gesê.
“Elke speler gaan nou en dan deur ’n tydperk waar dinge nie heeltemal wil vlot nie en AB was moontlik die afgelope ruk daar.
“Met die kolf het hy ’n paar keer goed begin, maar hy kon nie munt slaan daaruit en ’n groot telling aanteken nie.
“Hy is egter so ’n ongelooflike speler dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat hy weer ’n reuse-beurt speel.”
Volgens Amla, wat saam met Jacques Kallis die Protea-kolfhelde was in die onbesliste eerste toets op die Gabba in Brisbane, kan ondersteuners reeds in Adelaide die “ou” De Villiers verwag.
“Hy is nie ver van waar hy wil wees nie en hopelik kan hy weer in die volgende wedstryd sy ou self wees,” het hy gesê.
“Ons het ’n vinnige kolfblad verwag in Brisbane, maar het dit nie gekry nie. Dis belangrik dat ons aanpas by dít wat in Adelaide op ons wag.”