Abbott vat sewe paaltjies in toets-buiging
2013-02-24 07:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Christo Buchner Centurion
Sy bynaam is Jimmy en nes die eertydse oud-swaargewigbokser en deesdae
evangelis aan wie hy dié naam te danke het, het Kyle Abbott Pakistan
gister op die tweede dag van die derde toets op SuperSportpark met ’n
vernietigende opstopper droomland toe gestuur.
Die Pakistani-kolwers het hierdie een nooit eens sien kom nie.
Terwyl hulle nog kopgekrap het oor hoe om Dale Steyn en Vernon Philander van hul paaltjies af weg te hou, het dié nuweling-snelbouler vanuit nêrens verskyn en hulle flenters geboul met die beste syfers (7/29) nóg deur ’n Suid-Afrikaner in die eerste beurt van sy debuuttoets.
Die vorige houer van dié rekord is Marchant de Lange, wat minder as twee jaar gelede 7/81 teen Sri Lanka geneem het.
Nadat Suid-Afrika gisteroggend vir ’n stewige 409 uitgehaal is, was die besoekende kolwers weer klei in die hande van die Protea-boulers.
Hulle is vir net 156 lopies in 46.3 boulbeurte uitgeknikker.
Met ’n voorsprong van 253 lopies het kaptein, Graeme Smith, hulle laat opvolg en sommer met die eerste bal van Dale Steyn, is Mohammad Hafeez (0) skoongeboul.
Hulle het daarna gehinkepink na 14/1 met die uitskeityd en daar is nou nog 239 lopies tussen die besoekers en ’n beurtnederlaag.
’n Vyfde beurt-oorwinning uit die laaste ses toetse op dié veld wink boonop al te aanloklik vir die Suid-Afrikaners vandag.
Abbott, wat bloot sy kans gekry het toe Jacques Kallis hom weens ’n seer kuit aan die Protea-span moes onttrek, het sommer al in sy eerste boulbeurt in toetskrieket ’n paaltjie geneem toe hy vir Hafeez (18) in die glippe laat uitvang het deur Dean Elgar.
Daarmee het hy die agtste Suid-Afrikaanse bouler geword wat ’n paaltjie in sy eerste boulbeurt in ’n toets neem.
Hy is die vierde sedert hertoelating, met die ander drie die ongewone name van Alviro Petersen, Jacques Rudolph en Elgar self.
Abbott het ook in sy eerste skof van Misbah-ul-Haq (10) ontslae geraak, voordat hy ná teetyd van die hoofpaviljoen se kant begin boul en die Pakistani-beurt laat verkrummel het.
Van 75/3 het die besoekers ineengestort en hul laaste sewe paaltjies vir net 81 lopies verloor.
Die laaste vyf paaltjies kon net 24 lopies oplewer, met Abbott wat amok gemaak het.
Hy het baie vurig geboul en nie enige senuagtigheid vir ’n groentjie gewys nie.
Trouens, sy eerste bal in toetskrieket is deur Azhar Ali grens toe gejaag, maar dit was ’n vals alarm en daarna was geen van die besoekende kolwers op hul gemak teen hom nie.
Hy beskik veral oor ’n baie geniepsige opslagbal, wat telkens verby die kolwers se ore gevlieg het.
Slegs Younus Khan (33) en Imran Farhat (30) het gelyk asof hulle aan die gang kon kom.
Vir die res het dit gelyk asof hulle op ’n strook vol landmyne kolf, met handgranate wat na hulle afgestuur word.
* Suid-Afrika, wat gisteroggend op 334/6 voortgekolf het, het ’n verdere 75 by hul oornagtelling gevoeg.
AB de Villiers het van 98 voortgegaan tot 121 vir sy 16de toetshonderdtal.
Philander het terselfdertyd die hoogste telling van sy kort, maar indrukwekkende toetsloopbaan behaal en hul vennootskap om die sewende paaltjie was 129 lopies werd.