Asems op oor Watson; Faf kry kans
2012-11-17 23:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis nie nét die Suid-Afrikaanse krieketspan wat hoop dat Australië ook op die Adelaide Oval sonder sy beste veelsydige speler, Shane Watson, sal moet klaarkom nie.
Rob Quiney, die Aussies se kolwer nommer drie in die eerste toets in Brisbane, sal ’n kans kry om te vergoed vir sy teleurstel-
lende kolfwerk in die eerste toets in Brisbane – sou Watson weer nie die paal haal nie.
Dié stewige blondekop het die Gabba-stryd misgeloop weens ’n kuitbesering en hoewel hy vandeesweek ingesluit is in die tuisspan se groep vir Adelaide, is hy steeds in ’n wedloop teen tyd gewikkel om betyds fiks verklaar te word.
John Inverarity, die Aussies se keurderbaas, het eergister gesê Watson sal nie nét as ’n kolwer oorweeg word nie en dat hy ook “100% boul-gereed” sal moet wees om gekies te word.
Die 30-jarige Quiney besef sy toets-uurglas loop spoedig leeg – selfs al het Mickey Arthur, die Aussie-afrigter, sy telling van nege in die eerste toets “as die mooiste nege ooit” bestempel.
“Ek sal eerder ’n lelike vyftigtal wil aanteken as ’n mooi nege lopies, want my tyd raak min met Shane
wat besig is om te herstel van sy besering,” het Quiney aan espncricinfo.com gesê.
“Ek moet wys dat ek lopies kan aanteken op die topvlak, want as ek dit nie doen nie, sal my kanse opraak.”
Buiten Watson, is Mitchell Starc die ander speler in die groep wat nie in Arthur se laaste beginspan was nie.
Dié hotklou snelbouler kan in Adelaide straks ten koste van Peter Siddle óf die draaier Nathan Lyon gekies word.
Intussen moet die Suid-Afrikaanse keurders kies tussen Faf du Plessis en Dean Elgar om in die plek van die beseerde JP Duminy ingespan te word.
Du Plessis is egter in die binnebaan om sy toetsbuiging te maak.
Die Proteas sal straks ook afsien van hul plan om 20 Aussie-paaltjies met ’n suiwer naataanval te probeer plattrek.
Dié besluit het lelik geboemerang op die Gabba en Imran Tahir behoort sy terugkeer te maak, met Rory Kleinveldt wat koeldrankies kan aandra.