Berg wag in SA op Swartpette, sê breier
2012-12-16 03:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Berg wag op die Nieu-Seelandse krieketspan aan die vooraand van sy T20-reeks teen Suid-Afrika, erken Mike Hesson.
Want met ’n erg uitgedunde span wat dié week in die land aangekom het én met die Proteas op die kruin van die krieketgolf ná hul geskiedkundige sukses teen Australië, sal die tuisspan nie maklik geklop word nie.
Hesson, die Kiwi-afrigter, het egter gewaarsku sy span sal nie bloot kanonvoer wees vir Faf du Plessis se bloedjong blits-elftal nie.
“Suid-Afrika is ’n fantastiese span met skitterende spelers en in sy agterplaas gaan hy bitter moeilik geklop word,” het Hesson eergister gesê.
“Tog het ek vertroue in die span wat ek hierheen gebring het.”
Dié breier was die afgelope weke midde-in ’n herrie oor die onttrekking van die Swartpette se gereelde kaptein en hul voorste kolwer, Ross Taylor.
Dié twee sit glo nie om dieselfde vuur nie sedert Hesson by John Wright oorgeneem het. Hesson se voorstel, dat Taylor van die kapteinskap van die blits- en eendagspanne onthef word ná ’n rits teleurstellende vertonings, het veroorsaak dat dié kolfster hom verlede week onttrek het aan die toergroep na Suid-Afrika.
“Die laaste ruk was nie maklik nie en ons voorbereiding was allesbehalwe ideaal,” het Hesson gesê.
“Ons het egter ’n klomp jong, opwindende spelers wat hul stempel wil afdruk.
“Ons sal ná dié reeks kan sien presies hóé goed hulle werklik is.”
Die Kiwi’s het reeds nege keer vantevore in dié soort krieket met die Proteas kragte gemeet.
Die besoekers kon net twee keer wen en het boonop met 1-2 slae gekry in die laaste reeks tussen dié lande – in Februarie vanjaar in Nieu-Seeland.
“As ’n mens die spanne teen mekaar opweeg en ook kyk na die geskiedenisboeke, wag ’n berg op ons,” het Hesson gesê.
“Maar ons is ’n trotse krieketland en ons sal veg tot die bitter einde.”