Breker jag Mark se kroon
2012-01-14 23:42
Danksy Dane Vilas se wêreldrekord-vertoning voor én agter die paaltjies verlede naweek is die Cobras nou binne trefafstand van ’n derde agtereenvolgende SuperSportreeks-kroon.
Én is dié lenige paaltjiewagter straks ook in die binnebaan om Mark Boucher se Protea-handskoene te erf.
Vilas (26), wat sy kriekettande in Johannesburg geslyp het maar die afgelope seisoen of wat vir die Kaapse streekspan speel, het die eerste speler in die geskiedenis van eersterangse krieket geword om meer as 150 lopies aan te teken én 10 slagoffers agter die paaltjies te eis in die Cobras se SuperSport-wedstryd teen die Knights in Kimberley.
Die besoekers het dié kragmeting met ’n beurt en 54 lopies gewen en is nou loshande voor in Suid-Afrika se plaaslike meerdaagse kompetisie.
Vilas se 187 lopies (198 balle, 23x4, 6x6) het die Kapenaars in staat gestel om ’n stewige 432 in hul enigste beurt op te stapel – dít nadat die besoekers vroeër kniediep in die knyp was met hul telling op 136/7.
Hy het daarna vier kolwers uitgevang in die Knights se tweede beurt van 160, nadat hy vroeër ook ses slagoffers geëis het in die tuisspan se eerste beurt.
Hoewel altesaam ses spelers (onder wie die Australiese legendes Adam Gilchrist en Rod Marsh) reeds ’n honderdtal en 10 slagoffers in dieselfde wedstryd behaal het, is Vilas die enigste wat met die kolf die 150-kerf kon verbysteek.
Dié vertoning sou beslis vir Andrew Hudson en sy mede-keurders laat regop sit het, met die valbyl wat ál gevaarliker hang oor die kop van Boucher, die Proteas se jarelange paaltjiewagter.
Dié 34-jarige veteraan, wat in sy internasionale loopbaan van bykans 15 jaar feitlik reeds elke paaltjiewagter-rekord denkbaar agter sy naam geskryf het, sukkel die afgelope anderhalfjaar om sy plek in die Suid-Afrikaanse toetsspan te regverdig.
Hy kon net 95 lopies aanteken in sy laaste vyf toetse (teen die besoekende Australië en Sri Lanka), terwyl hy agter die paaltjies ’n nagmerrie beleef het in die laaste van dié kragmetings teen die eilandmanne in Kaapstad.
Dít nadat hy reeds middel voorverlede jaar gepos is uit die Proteas se eendagspan en AB de Villiers sedertdien in dié rol waarneem.
De Villiers se knaende rugbesering, asook sy hemelhoë kolf- én nuutgevonde kapteinskaplas maak van dié blondekop Pretorianer egter nie ’n langtermyn kitskeuse nie – en dit is haas ondenkbaar dat hy ook in die langer weergawe van die spel agter die paaltjies sal inskuif.
Hoewel die name van bykans ’n halfdosyn ander aanspraakmakers ook die afgelope paar maande genoem word as moontlike opvolger vir Boucher (en al is daar steeds tergende vrae oor sy vermoë met die groot handskoene), het Vilas se kolfvernuf tans nie sy gelyke nie.
In 38 eersterangse wedstryde het hy ’n indrukwekkende 2?492 lopies gemoker teen ’n gemiddelde van 47.92, waaronder 12 vyftig- en agt honderdtalle.
Die Titans se Heino Kuhn (5?426 lopies teen 43.75) en Davey Jacobs van die Warriors (4?625 teen 36.41) staan volgende in die kolf-ry.
Kuhn was tot dusver die vanselfsprekende keuse en het die Proteas reeds in vyf Twintig20-wedstryde verteenwoordig.
Hy het boonop ook die meeste ervaring van die boulwerk van Imran Tahir, sy voormalige spanmaat in Centurion en sonder twyfel die grootste uitdaging vir wie ookal by Boucher sal oorneem.
’n Rits beserings het Jacobs se opgang die afgelope twee seisoene effens gekniehalter, tog het hy die vermoë om boulaanvalle aan flarde te ruk en word hy hoog aangeslaan deur niemand anders nie as die Indiese kolfmaestro en sy spanmaat by die Mumbai Indians, Sachin Tendulkar.
Wat vang- en stonkwerk betref, staan die atletiese Thami Tsolekile kop-en-skouers uit bo die res, tog dui dié buksie se beskeie eersterangse rekord met die kolf (4?404 lopies in 127 wedstryde teen 28.97) daarop dat hy met die wilgerlat moeilik die mas sal opkom op die hoogste vlak.
Tsolekile is boonop reeds 31 jaar oud en het al verskeie dissiplinêre misstappe begaan in sy kleurvolle loopbaan.
Daryn Smit is heel bedrewe met die handskoene, tog gaan sy kolfrekord ook nie juis aan teenstanders slapelose nagte besorg nie. Dié 27–jarige KwaZulu-Nataller kon nog net drie honderdtalle aanteken in 65 wedstryde en word steeds dikwels deur die Dolphins as ’n deeltydse bybreekbouler ingespan.
Een speler oor wie Hudson en kie. opgewonde is, is die Lions se jong Quinton de Kock.
Hy het weliswaar maar pas sy 19de verjaardag gevier en probeer nog sy voete vind op eersterangse vlak, maar het reeds 945 lopies in net 12 kragmetings (teen ’n skitterende gemiddelde van 63.00) gemoker.
De Kock se kritici meen dié gebrek aan ervaring kan teen hom tel, tog was Boucher nie veel ouer óf wyser toe hy in 1997 (op net 20) sy eerste toetskans gekry het nie.