Cobraslooi die Lions; Boeta slaan 100
2011-12-17 23:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Cape Cobras, met die trofeë van al drie nasionale kompetisies op die oomblik in hul vertoonkas, vee steeds alles voor hulle plat.
Hulle het met hul maklike SuperSport-sege oor die Lions, in ’n rapsie meer as twee dae op Nuweland, gewys hulle is steeds die span om te klop – met of sonder hul nasionale spelers. Met hul 18.82 punte in dié wedstryd het die Cobras ook gewys hulle gaan nie maklik van hul SuperSport-titel afstand doen nie.
Dié wedstryd was vroeg op die derde dag iets van die verlede. Die Lions het gisteroggend op 146/7, met ’n agterstand van nog 109 lopies, voortgekolf.
Rory Kleinveldt (5/42) het al drie die oorblywende paaltjies ingeoes.
Die Cobras (341) het met ’n beurt en 83 lopies gewen nadat die Lions vir 86 en 172 in hul twee kolfbeurte uitgeboul is.
Boeta Dippenaar het gister in Bloemfontein, waar die twee voorlopers, die Knights en die Dolphins, slaags is, die vyfde honderdtal van die wedstryd aangeteken.
Met die 34-jarige Dippenaar (109*) aan die spits met sy 34ste honderdtal het die tuisspan teen uitskeityd op 270/5 ’n voorsprong van 247 lopies geniet.
Die Titans kon vroeër net 44 lopies by hul oornagtelling van 416/5 voeg met Quinton Friend (5/73) wat sy vyftal voltooi het.
Hulle het eindelik met 460 in hul eerste beurt geantwoord op die 438 van die tuisspan.
Dippenaar het sy lyf op die spel geplaas ná ’n paar vroeë paaltjies. Hy is ’n slag raakgeboul en het ook op 47 oorleef toe ’n glipvangskoot verbrou is.
Obus Pienaar (83) was ook op pad na ’n honderdtal, maar was in die laaste boulbeurt van die dag Rowan Richards se agtste slagoffer van die wedstryd.
Jon-Jon Smuts (107) het die Warriors in die Baai gehelp om hul tweede beurt op 369/9 te sluit.
Die Dolphins sal die laaste dag op 121/1 in hul tweede beurt, met ’n agterstand van nog 321 lopies, hervat.
Die Warriors jag hul eerste sege ná drie nerderlae, terwyl die Dolphins na ’n eerste sege in vyf wedstryde op soek is.