Dit choke voort
2011-12-31 18:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
JANUARIE
* Die toetsreeks tussen Suid-Afrika en Indië eindig gelykop met 1-1 ná nie een van die twee die oorhand in die laaste toets in Kaapstad kan kry nie. Jacques Kallis word die eerste Suid-Afrikaner wat twee honderdtalle in ’n toets by die huis aanteken, ná beurte van 161 en 109* – ondanks ’n beseerde borsspier.
* Die Proteas wen die eendagreeks teen Indië met 3-2.
* Die tuisspan oorheers die eerste wedstryd, wat hulle met 135 lopies wen danksy goeie beurte deur Hashim Amla (50), AB de Villiers (76) en JP Duminy (73).
* Die tweede stryd is ’n ware naelbyter, en Indië wen met ’n enkele lopie ná die Proteas oor hul eie lang stert struikel.
* Indië neem die voortou in die reeks, met ’n sege met twee paaltjies in die derde wedstryd.
* Suid-Afrika wen albei die laaste stryde volgens die Duckworth/Lewis-metode – met onderskeidelik 48 en 33 lopies.
* Indië wen die enigste Twintig20-wedstryd met 21 lopies.
FEBRUARIE
* Die president van Krieket Suid-Afrika (KSA), dr. Mtutuzeli Nyoka, word van sy pos onthef ná ’n mosie van wantroue op ’n vergadering van KSA se ledeforum ingestel word.
* Nyoka verwittig KSA skriftelik van sy voorneme om die liggaam te dagvaar tensy hy in sy pos heraangestel word, omdat hy glo hy is onregmatig ontslaan en het geen verduideliking vir sy afdanking gekry nie.
* Die Proteas skop hul Wêreldbeker-veldtog af met ’n sege met 7 paaltjies oor Wes-Indië in Delhi. AB de Villiers teken die vinnigste honderdtal deur ’n Suid-Afrikaner in ’n Wêreldbeker-toernooi aan (107 van 149 balle).
MAART
* Danksy honderdtalle deur Hashim Amla (113) en AB de Villiers (134), verslaan die Proteas Nederland met 231 lopies.
* Suid-Afrika se eerste nederlaag van die Wêreldbeker-toernooi is teen Engeland. Die Engelse wen met 6 lopies ná hulle SA vir 165 lopies uitboul.
* Die Proteas klop Indië met drie paaltjies, met twee balle oor, ná hulle reuse-druk verwerk. Indië is stewig in beheer op 267/1, voordat Dale Steyn onder hulle inklim (5/50).
* Suid-Afrika eindig die groepfase met maklike seges oor Ierland (met 131 lopies) en Bangladesj (206 lopies).
* Die droom van ’n eerste Wêreldbeker-sukses sterf in Dhaka in Bangladesj, toe ’n flouerige Nieu-Seeland hulle met 49 lopies verslaan. Suid-Afrika verloor sy laaste agt paaltjies vir net 64 lopies, en die choker-bordjie word weer om hul nekke gehang.
* Plaaslik wen die Cobras die Pro20-reeks deur die Warriors met 12 lopies te klop.
APRIL
* Indië wen die Wêreldbeker-toernooi voor hul tuisskare, deur Sri Lanka met ses paaltjies te troef.
* Die Cape Cobras wen die Supersport-reeks. Hulle klop die Warriors met 7 paaltjies in hul laaste wedstryd.
* Suid-Afrika A wen ’n reeks van vyf eendagwedstryde teen Bangladesj A met 3-1.
* Die hooggeregshof beslis dat die afgesette KSA-president, dr. Mtutuzeli Nyoka, in Februarie onregmatig ontslaan is en dadelik heraangestel moet word.
SEPTEMBER
* Die KSA-president, dr. Mtutuzeli Nyoka, verkla Gerald Majola, uitvoerende hoof van KSA, by die Valke weens bedrog wat uit die onregmatige uitbetaling van bonusse van R4.7?miljoen aan Majola en sowat 40 ander KSA-werknemers vir die aanbieding van die Indiese Premierliga-toernooi en die Kampioene-trofeereeks spruit.
OKTOBER
* Australië klop die Proteas in die eerste wedstryd van die Gary Kirsten-era. Die Aussies wen die eerste T20-kragmeting met vyf paaltjies.
* SA verhang die bordjies in die tweede stryd. Wayne Parnell en Rusty Theron se onwaarskynlike vennootskap van 64 lopies (van net 27 balle) om die agtste paaltjie laat Suid-Afrika herrys van ’n benarde 84/7 tot ’n triomf met drie paaltjies.
* Australië wen die eendag-reeks van drie wedstryde met 2-1. Die Aussies wen die eerste kragmeting volgens die Duckworth/Lewis-metode met 93 lopies, maar verloor die tweede met 80 lopies. In die derde wedstryd in Durban wen die Aussies met drie paaltjies.
* Gerald Majola word deur KSA se raad oor die vingers getik weens die onregmatige uitbetaling van bonusse van R4.7?miljoen vir die aanbieding van die Indiese Premierliga-toernooi en die Kampioene-trofeereeks spruit, nadat adv. Azhar Bham SC bevind daar is geen gronde om Majola te vervolg nie.
* Dr. Nyoka kry wéér die trekpas as KSA-president.
* Die minister van sport, Fikile Mbalula, kondig aan dat ’n komitee, onder leiding van ’n oudregter, aangestel sal word om ondersoek in te stel na die bevindings van ’n forensiese ondersoek na KSA se geldsake.
NOVEMBER
* Suid-Afrika wen ’n merkwaardige eerste toets teen Australië in Kaapstad met agt paaltjies. Die eerste dag verloop heel normaal, maar op die tweede dag tuimel 23 paaltjies. Suid-Afrika is diep in die moeilikheid toe hulle vir 96 lopies uitgeboul word (vir ’n eerstebeurt-agterstand van 188 lopies), maar neem beheer deur ál tien Aussie-paaltjies vir net 47 lopies te laat kantel. Vernon Philander neem 5/15.
* Die toetsreeks eindig gelykop nadat Australië die tweede toets met twee paaltjies wen. Die tienersensasie Pat Cummins slaan die wenlopies in Australië se rekordbrekende vierde beurt van 310 (die hoogste wentelling nóg in ’n toets by die Wanderers).
* Die minister van sport, Fikile Mbalula, stel ’n komissie onder leiding van regter Chris Nicholson aan om ondersoek in te stel na die finansiële sake van KSA.
DESEMBER
* Die Cape Cobras wen die Eendagbeker, ná ’n sege met vyf paaltjies oor die Warriors. Dis die Kapenaars se eerste kitstrofee sedert 2006/2007.
* Die Proteas verneder Sri Lanka in hul eerste afspraak van die toetsreeks in Pretoria. Met Vernon Philander (met ’n toets-ontleding van 10/102), AB de Villiers (99 in eerste beurt) en Mark Boucher (’n vyftigtal en agt vangkanse) aan die spits, klop Suid-Afrika die besoekers met ’n beurt en 81 lopies.
* En toe... 2011 eindig op ’n absolute laagtepunt, toe Suid-Afrika in Durban teen ’n vrot, mank Sri Lanka-span met ’n yslike 208 lopies verloor.