Dit gons oor 7de span in reeks
2012-02-04 22:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die land se plaaslike Twintig20-kompetisie skop aanstaande week af met ’n splinternuwe sewende franchise-span, maar nie almal is gaande oor dié nuutjie nie.
Dié span, wat straks die Rangers óf die Challengers sal heet, sal sake vanaf 15 Februarie om die land se blitskroon uitspook met die ses bestaande franchises – én spog reeds met twee oorsese sterre in sy geledere.
Paul Collingwood, ’n voormalige Engelse kaptein, en die Suid-Afrikaans gebore Nederlander Ryan ten Doeschate sal hulle eersdaags by dié span aansluit.
Krieket Suid-Afrika (KSA) het by navraag aan Rapport bevestig dat samesprekings oor die borgskap van die span én die reeks dié week afgehandel sal wees.
Buiten Collingwood en Ten Doeschate kan nog twee “huursoldate” vir dié span uitstap, tog sal hoogstens drie van hulle glo in dieselfde wedstryd mag speel.
Dít nadat van die ander franchises glo gebrom het oor die sterk oorsese invloed van dié elftal – terwyl hulle net twee buitelanders mag inspan.
Na verneem word, sal die res van die nuwe franchise – wat gebrei sal word deur die voormalige Protea-boulafrigter, Vincent Barnes – bestaan uit sogenaamde “oorskot-spelers” van die Lions, Dolphins, Titans, Cobras, Warriors en Knights.
Barnes sal egter eers na afloop van die SuperSport-reeks aan sy volwaardige groep kan begin slyp.
Daar was glo ook ongelukkigheid oor waar dié sewende franchise sy tuiswedstryde sal speel.
’n Vroeëre voorstel, dat die kragmetings op teenstanders se “tweede keuse-veld” beslis sou word, is laat vaar nadat ’n voornemende borg glo geëis het dat álle tuiswedstryde op Willowmoorepark in Benoni plaasvind. Dit beteken dat die Titans al sy tuiswedstryde in die reeks op SuperSportpark in Centurion sal speel – wat ander deelnemers ook omgekrap het.