Graeme pleit nou vir SA ‘koel koppe’
2011-12-31 18:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Graeme Smith erken die Proteas se pak slae op Kingsmead was ’n groot tree agteruit op hul pad terug na die kruin van wêreld-toetskrieket.
Tog is dit nou die tyd vir koel koppe, eerder as lang messe as die Suid-Afrikaners 2012 wil begin op ’n hoër noot as die een waarmee hulle vanjaar afgesluit het, meen die tuisspan se kaptein.
Die Proteas is vandeesweek met 208 lopies geslag deur die einste Sri Lankane vir wie Smith-hulle skaars ’n week vroeër in Centurion met ’n beurt en 81 lopies afgeransel het.
“Dis verstaanbaar dat daar allerhande vrae gevra gaan word, want ons was eenvoudig net nie goed genoeg nie,” het Smith by navraag gesê.
“Dis nou nodig vir goeie en weldeurdagte besluite, eerder as emosionele reaksies.”
Dié 30-jarige Kapenaar, wie se kapteinskap vandeesweek opnuut onder die vergrootglas beland het, het ook ontken dat sy span oorgerus was ná hul verspotmaklike oorwinning (in minder as drie dae) op SuperSportpark.
“Ons het nie op ons louere gerus nie, trouens ons voorbereiding was uitstekend en alles was reg vir ons om te presteer.
“Ons kan nie kla oor die kolfblad hier (op Kingsmead) nie. Dit het Sri Lanka se stadiger boulers beter gepas, maar dis steeds ons tuisveld en hulle het net beter daarby aangepas.”
Volgens hom is die span “oorgehaal” om die bordjies te verhang, wanneer die beslissende kragmeting oormôre in die Moederstad begin – en so sy eerste toetsreeks op tuisbodem te wen sedert hy in 2008 met Bangladesj afgereken het.
“Die reeks is op die spel en ons is in ’n posisie waarin ons die laaste ruk ongelukkig te gereeld was. Ja, ons kon nie een van ons laaste paar reekse wen nie, maar ons ken Kaapstad goed en speel altyd goeie krieket daar,” het Smith gesê.
“Ons kan soveel praat en oefen as wat ons wil, maar ál manier waarop ons sake kan regstel is om te wen op Nuweland.
“Dit was ’n moeilike jaar vir ons, maar hopelik kan ons 2012 beter begin. Dis ’n groot wedstryd en daar sal geen gebrek aan motivering wees nie.”