Koes, Kallis!
2011-12-17 23:08
Jy moet koes, Kallis!
Nadat hy Vrydagoggend hier op die tweede dag van die eerste kriekettoets teen Sri Lanka deur Dilhara Fernando teen die kop raakgeboul is, word daar ál hoe meer vrae gevra oor die Suid-Afrikaanse ster-kolwer Jacques Kallis se vermoë om deesdae kort aflewerings te hanteer.
Die kort bal waarin hy geduik het en teen die slaap getref is deur die Sri Lankaanse snelbouler, is nie die eerste die afgelope ruk waarmee hy probleme gehad het nie.
In die eindstryd van die Eendagbeker-reeks vir die Cape Cobras teen die Warriors voorverlede Vrydag in Kaapstad, het Rusty Theron hom op sy agterent laat sit met ’n kort bal, wat uiteindelik ook sy einde beteken het.
Kallis het daar omtrent so elegant soos ’n seekoei in ’n tutu gelyk toe hy uit die pad van die bal probeer kom het – en dit hom teen die handskoen getref en hy op byglip gevang is.
Dan het die 18-jarige Aussie-groentjie Pat Cummins Kallis ook verlede maand in die tweede toets op die Wanderers ’n swaar tyd gegee met die kort kartetse.
Dit was juis die bal ná hy Kallis met so ’n korte gepeper het, dat hy sy paaltjie geneem het.
So, het Kallis iets om bekommerd oor te wees wat sy vermoë teen die kort bal betref?
“Ek glo nie,” sê Shaun Pollock, die eertydse SA kaptein.
“In ’n speler se loopbaan kry jy fases waar jy skielik ’n paar maal ná mekaar op ’n sekere manier uitgaan of sukkel teen sekere aflewerings.
“Jacques is goed genoeg om probleme wat hy mag hê, uit te stryk. Hy is ook nie naby die einde van sy loopbaan nie en gaan nog lank deel van die nasionale opset wees,” het Pollock gesê.
Dat hy en sy afrigter, Gary Kirsten, egter werk sal moet maak daarvan dat hy deesdae so ongemaklik is teen die kort bal, is gewis.
Elke span sal dít as ’n kraak in die Kallis-ketting sien – en hy sal voortaan ’n oordosis kort balle kry wanneer hy na die paaltjies stap.
Die geweldige hou wat hy Vrydag gekry het, sal ook sielkundige letsels laat. Die bal het Kallis teen die slaap getref en sy kopskerm het hom teen die oor gesny. Hy het verdwaas probeer opstaan, maar dadelik weer gaan lê waar hy etlike minute lank behandel is.
Toe hy uiteindelik regop kom, het hy soos ’n bokser wat droomland toe gestuur is, gesteier, voordat hy kon voortkolf.
Sy spanmaat AB de Villiers sê dit was ’n verwoestende hou wat hy gekry het: “Elke keer wanneer jy ’n hou kry en die bal reflekteer nie agtertoe vanaf jou kopskerm nie, moet jy weet dit was ’n soliede hou.”