Koppe moet rol
2011-12-31 18:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die galgtou is die voorland van minstens een Protea-veteraan ná die Suid-Afrikaners se vernederende loesing in die tweede toets teen Sri Lanka op Kingsmead ... maar wanneer die beslissende kragmeting oormôre in Kaapstad begin, veg Jacques Rudolph, Mark Boucher en Morné Morkel ook opnuut om hul toetslewens.
Ashwell Prince, wat vandeesweek tellings van net 11 en 7 kon behaal, behoort plek te maak vir Alviro Petersen in die Moederstad, nadat hy pas ’n indrukwekkende honderdtal gemoker het in die Lions se SuperSportreeks-wedstryd teen die Titans in Benoni.
Die 34-jarige Kapenaar Prince lyk na ’n skadu van die kolwer wat die afgelope paar jaar ’n instelling geword het op die Proteas se spanlys – en hy het straks die laaste van sy 66 toetse gespeel.
Andrew Hudson, die nasionale keurderbaas, het reeds aangedui dat daar volstaan sal word met die groep van 14 spelers wat voor die Durban-slagting gekies is – en dít beteken dat Rudolph, Boucher en Morkel (vir eers) die valbyl sal vryspring.
Morkel is straks die gelukkigste van dié drietal, nadat Marchant de Lange altesaam agt paaltjies platgetrek het in sy eerste toets.
Dié 21-jarige Tzaneen-blits is ingesluit toe Vernon Philander op die nippertjie onttrek moes word weens ‘n kniebesering en het ’n rekord sewe slagoffers geëis in die Sri Lankane se eerste kolfbeurt.
Philander se verwagte terugkeer – ná sy yslike 24 slagoffers in net drie toetse – beteken dat een van De Lange of Morkel koeldrankies sal moet aandra.
Graeme Smith, die Protea-kaptein, het egter laat deurskemer dat daar met Morkel volhard sal word.
Dié 27-jarige hemelbesem sukkel sedert die afgelope reeks teen Australië met sy ritme, maar hy het op Kingsmead veel skerper gelyk en was effens ongelukkig om nie meer as sy vier paaltjies plat te trek nie.
Om hom nóú te pos – met belangrike toetsreekse in Nieu-Seeland en Engeland om die draai – kan boonop meer skade aanrig aan sy selfvertroue as dít wat hy in ’n SuperSport-wedstryd of twee kan opdoen.
Petersen se insluiting bied aan die keurders die opsie om Rudolph op nommer 6 te laat kolf – en weg te hou van die nuwe bal, waarteen hy duidelik nie op sy gemak was teen die eilandmanne nie.
Rudolph (30), wat einste Petersen laasmaand vervang het ná sakkevol lopies op eersterangse vlak, kon steeds nie dié kolfpeil op die toetsveld herhaal nie – maar om hom weg te laat na nét vier toetse sal indruis teen afrigter Gary Kirsten se vroeëre belofte om geduldig te wees met die Protea-“nuwelinge”.
Ondanks sy dosyne wêreldrekords en gewildheid in die Suid-Afrikaanse kleedkamer, behoort Boucher op die dunste van ys te wees.
Met die uitsondering van sy vyftigtal in die eerste toets teen Sri Lanka, beleef dié 35-jarige paaltjiewagter ’n nagmerrie-jaar met die kolf en het hy boonop ’n baie duur flater begaan in die besoekers se tweede kolfbeurt.
Sy misverstand met Smith het veroorsaak dat Kumar Sangakkara ’n lewe gegun is met sy telling op net 3, waarna dié kolfyster die besoekers se tweede honderdtal van die toets gemoker en aan die tuisspan uiteindelik ’n onmoontlike wenteiken van 450 lopies gestel het.
Boucher se bydrae in ’n merkwaardige loopbaan van 143 toetse is nie te betwyfel nie, maar nóg ’n mislukking in die Moederstad kan sy lot in die span verseël.