Pollock: Dale is die beste
2011-12-17 23:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dale Steyn is die beste snelbouler wat Suid-Afrika nóg opgelewer het – en dis net ’n kwessie van tyd voordat hy ook die suksesvolste sneller in die land se geskiedenis word, sê Shaun Pollock.
En hy behoort te weet.
Dié 38-jarige rooikop, wat in Januarie 2008 halt geroep het ná ’n roemryke loopbaan van meer as 13 jaar, is steeds die Proteas se voorste paaltjievraat met ’n yslike 421 slagoffers.
“Daar is by my geen twyfel nie dat Dale die beste Suid-Afrikaanse bouler is wat ons nog gesien het – minstens sedert hertoelating in 1992,” het Pollock aan Rapport gesê.
“Ek het niks van die ouens van destyds gesien nie, maar sy (Steyn se) rekord spreek vanself.”
Die Phalaborwa Express (28) het vandeesweek net die vyfde Suid-Afrikaanse bouler geword wat meer as 250 toetspaaltjies plat getrek het, toe hy die Sri Lankaanse kaptein, Tillakaratne Dilshan, uitgehaal het op die eerste dag van die eerste van drie toetse tussen dié spanne.
Daarmee het hy ook die Protea-bouler geword wat die minste toetse (49) benodig het om dié mylpaal te bereik, nadat Allan Donald dit eers in sy 50ste toets kon vermag.
Net Dennis Lillee het al vinniger as Steyn daar uitgekom, met dié voormalige Australiese blits wat die 250-kerf in 48 toetse verbygesteek het.
“Die feit dat Dale so byna Lillee se rekord geëwenaar het, getuig van sy gehalte,” het Pollock gesê.
“Sy vermoë om die bal weg te swaai teen uitstekende vaart is fenomenaal en iets wat jy nie sommer agter elke bos uitskop nie.”
Pollock, wat dit self in net 60 toetse vermag het, meen sy rekord-getal toetspaaltjies “is beslis in gevaar”.
“Ek is oortuig daarvan dat Dale dié rekord gaan verpletter, veral as hy beseringvry kan bly oor die volgende paar jaar.”
Volgens hom kan Steyn die wêreld se voorste kolwers nog vir minstens vyf jaar lank treiter.
“Hy is fiks en sterk en selfs al verloor hy van sy vaart namate hy ouer word, sal hy steeds ’n handvol wees vanweë sy aksie en ervaring. Wat my betref, het hy ’n nuwe, hemelhoë standaard gestel en dit gaan moeilik oortref word.”