SA trio een van beste ooit, sê Kiwi
2013-01-05 23:22
Die Suid-Afrikaanse sneltrio van Dale Steyn, Morné Morkel en Vernon Philander is nét so goed soos die Australiese een wat vir meer as ’n dekade lank ’n skrikbewind op die wêreld se toetsvelde gevoer het.
Só het Brendon McCullum, die Nieu-Seelandse kaptein, die heuningkwas ingelê – oomblikke nadat sy span met ’n beurt en 27 lopies afgeransel is in die eerste toets teen Suid-Afrika.
Philander, Steyn en Morkel het tussen hulle 16 van die 20 Kiwi-paaltjies op Nuweland gevat.
Philander se gesamentlike boulsyfers van 7/83 het aan hom die speler van die wedstryd-toekenning besorg, terwyl Steyn (5/85) en Morkel (4/64) ook die Kiwi’s laat bontstaan het.
“Daai drie boulers is so goed as enige waarteen ek al te staan gekom het – en hulle kan beslis in dieselfde asem genoem word as Australië s’n ’n paar jaar gelede,” het McCullum gesê, met verwysing na die drietal van Glenn McGrath, Brett Lee en Stuart Clark.
“Die Aussies van destyds het jou nooit ’n kans gegee om jouself as ’n kolwer in te grawe nie – en Steyn, Philander en Morkel het dieselfde gewoonte om jou knaend onder druk te hou.
“Wat my betref, is hulle tans loshande die beste naat-aanval op die planeet.”
McCullum erken ’n berg wag op sy span in Port Elizabeth, waar die tweede toets Vrydag begin. Die Kiwi-kamp sal eers “probeer sin maak” uit die slagting op Nuweland.
“Dis nodig om so ’n pak slae eers te probeer verwerk en eerlik met jouself te wees oor waar jy tekort geskiet het.
“Dit gaan nog lank seermaak.”
McCullum was wél verheug oor die kolfvertonings van die groentjies Dean Brownlie en BJ Watling in die Swartpette se tweede beurt. “Dean en BJ het gewys dit ís moontlik om Suid-Afrika se druk te verwerk.”
* Die oud-Pretorianer Neil Wagner sal straks sy toetsbuiging maak op St. Georgepark in die plek van Chris Martin.
Die Nieu-Seelandse span vir die tweede toets kan só lyk: Brendon McCullum (k), Martin Guptill, Kane Williamson, Dean Brownlie, Daniel Flynn, BJ Watling, James Franklin, Doug Bracewell, Jeetan Patel, Trent Boult, Neil Wagner.