Stadig oor die klippe, Aussies!
2012-01-21 22:56
Ai, om darem die selfvertroue van ’n Australiese krieketspeler te hê!
Die manne Doer Onder het skaars van die grond af opgestaan, of hulle sê al klaar weer dat hulle binnekort weer die beste toetsspan in die wêreld gaan wees.
Australië het verlede week die reeks teen Indië beklink en is nou met 3-0 voor in die reeks, voordat die laaste toets Dinsdag in Adelaide begin.
Die enigste vraag wat nog in dié reeks beantwoord moet word, is of Indië vir die tweede reeks in ’n ry gaan toelaat dat sy teenstanders teen hom skoonskip maak. Indië het verlede jaar die toetsreeks
in Engeland met 0-4 verloor.
Dis egter moeiliker om te weet presies hoe goed Australië nou is ná dié vermorseling van die Indiese span.
Ofskoon spelers soos David Warner en die kaptein, Michael Clarke, al klaar weer praat van die “beste span in die wêreld” wees, is die Aussies tans maar 4de op die wêreldlys.
Clarke se span het ook maar bra middelmatig gelyk in die eerste vier toetse van dié somer, toe hy reekse gedeel het met Suid-Afrika en Nieu-Seeland – en dis rêrig moeilik om te bepaal of hy só verbeter het en of Indië tans maar net pateties is.
Één ding is seker: Australië se boul-aanval én sy bouldiepte het in die afgelope twaalf maande met rasse skrede verbeter. Jong boulers soos Pat Cummins, James Pattinson en Mitchell Starc is uiters belowend, terwyl van die meer ervare spelers soos Peter Siddle en Ben Hilfenhaus deesdae na heel ander boulers lyk.
Dan praat ons nie eens van ’n speler soos Mitchell Johnson nie.
Die grootste spook bly egter beserings, met Pattinson en Cummins tans langs die grenstou.
Of die Aussies se kolwers kan kers vashou met hul boul-aanval, is egter ’n heel ander vraag.
Die kaptein lyk tans na die enigste kolwer in die top-sewe oor wie daar nie ernstige vrae oor sy peil, sy tegniek of sy plek in die span hang nie.
Warner het ’n uitstekende begin tot sy toetsloopbaan gehad, maar dié voormalige T20-spesialis sal altyd vrae oor sy kolfstyl moet beantwoord totdat hy dieselfde soort welslae teen die wêreld se top-boulaanvalle kan behaal. Sy aanvangsmaat, Ed Cowan, is nog op soek na sy eerste toetshonderdtal.
Shaun Marsh het tot dusver ’n skrale 14 lopies in vier beurte in die reeks aangeteken, terwyl dit ook ál hoe meer lyk of die veterane Ricky Ponting en Michael Hussey se dae
getel is.
Brad Haddin, die paaltjiewagter, beleef ’n nagmerrie-seisoen met die kolf. Kenners in Australië meen die enigste rede waarom hy nog in die span is, is dat sy vermeende opvolger, Tim Payne, met ’n langtermyn-besering sukkel.
Die probleme in kolfgeledere laat die Suid-Afrikaanse span na ’n heel stabiele een lyk.
Nee wat, voordat die Aussies nie op ’n gevestigde top-orde kan staatmaak nie, kan hulle maar die no. 1-ranglysposisie op hul mae skryf.