Valbyl hang oor Sri Lanka-brekers
2012-01-07 23:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis nie net in die Protea-kamp waar die valbyl gevaarlik hang oor die koppe van ’n paar krieket-hardebaarde nie.
Tillakaratne Dilshan, die Sri Lankaanse kaptein, het vandeesweek hier erken dat sy spelers veel beter sal moet vaar in die eendag- as in die afgelope toetsreeks – of sommer binnekort die trekpas kan kry.
Die toerspan kon net een noemenswaardige telling aanteken – en veral die spelpeil van Mahela Jayawardene en Dilshan self het die besoekers by tye lelik in die steek gelaat in dié reeks, wat die eilandmanne met 1-2 verloor het ná hul nederlaag met 10 paaltjies op Nuweland.
Jayawardene, wat reeds ’n yslike 10 086 lopies in toetse aangeteken het, kon dié keer net 132 bymekaarskraap in ses beurte.
“Mahela se spelpeil is beslis ’n groot kwessie, want hy is een van ons mees ervare spelers en waarskynlik die één ou op wie ons erg staatmaak,” het Dilshan gesê.
“Sy gesukkel in die toetse het die res van die kolflys onder groot druk geplaas, maar tot dusver op die toer werk hy baie hard – en hopelik kan hy weer sy ou self wees in die kitswedstryde.”
Dilshan, wat op Kingsmead sy eerste toets as kaptein gewen het, kon net in die reeks net een vyftigtal moker.
Veral dié 35–jarige se nare gewoonte om sy paaltjie met uiters gewaagde houe weg te smyt, het sy aanhangers die harnas ingejaag.
“Ek moes waarskynlik meer konserwatief gewees het en veral hier (op Nuweland) moes ek verseker het dat ek ’n gróót honderdtal behaal toe ek myself klaar ingegrawe het,” het Dilshan gesê.
“Elkeen van ons spelers moet egter verantwoordelikheid aanvaar vir die reeksnederlaag teen ’n goeie Protea-span, ook ons laer orde-kolwers.
“Die verskil tussen ons skitterende sege in Durban en die uitslag hier, was dat ons in Kaapstad hopeloos te veel foute vroeg in die toets begaan het en Suid-Afrika ons nooit toegelaat het om te vergoed daarvoor nie.”
Dilshan kon ook nie verduidelik waarom daar, teen alle verwagtinge in, geen plek was in die Sri Lankaanse kitsgroep vir Thilan Samaraweera nie.
Dié veteraan, wat op die laaste nippertjie in die toetsgroep ingesluit is as voorsorgmaatreël vir Jayawardene, het blink gekolf en hy was naas die Suid-Afrikaanse kanonkolf van AB de Villiers die voorste lopievraat in die afgelope toetsreeks.