Word Sachin se 100-jag ’n meulsteen vir Indiërs?
2011-12-31 18:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die groot vraag voordatdie tweede kriekettoets tussen Australië en Indië vroeg Dinsdagoggend (SA tyd) in Sydney begin, is: Watter Australiese span gaan opdaag?
Gaan dit die Australië wees wat Nieu-Seeland verlede maand in die eerste toets verwoes het – nof gaan dit die span wees wat toe in die tweede toets teen die Kiwi’s in duie gestort het?
Of gaan dit die Aussies wees wat skandes gemaak het op Nuweland en vir net 47 uitgeboender is – of gaan dit die Aussie-span wees wat toe teruggeveg het op die Wanderers om die reeks met die Proteas te deel?
Die Aussies is tans net so wisselvallig soos Graeme Smith se Proteas en ’n mens sal dus maar moet wag vir die toets om te begin, voordat ’n mens sal sien watter Aussies dié is.
Australië het die afgelope Donderdag die eerste toets in Melbourne beklink, toe hy Indië vir net 169 in die vierde beurt uitgeboender het. Dit was ’n uitstekende vertoning deur ’n jong en onervare boul-aanval.
Indië sal ’n baie beter vertoning van sy gevreesde toporde-kolwers wil hê. Virender Sehwag (67), Rahul Dravid (68) en Sachin Tendulkar (73) het almal vyftigtalle in die eerste beurt van die toets aangeteken, maar nie een het aangegaan om die groot honderdtal te moker wat die toets in hul guns sou geswaai het nie.
’n Mens moet al hoe meer begin wonder of Tendulkar se geswoeg om sy 100ste internasionale honderdtal te moker nie ’n meulsteen om die span se nek geword het nie. Sy laaste toetshonderdtal was presies ’n jaar gelede, toe hy ’n glorieryke 146 teen Suid-Afrika in die Nuwejaarstoets op Nuweland gemoker het.
Dáái toets sal nog lank onthou word vir die tweestryd tussen die klein maestro en Dale Steyn.
Indië sal egter baie positief wees oor sy boul-aanval, nadat Umesh Yadav uitstekend geboul het. Dié 24-jarige naatbouler het 7 paaltjies in die toets platgetrek en vorm saam met Zaheer Khan en Ishant Sharma ’n gedugte blits-aanval in Australiese toestande.
Daar is egter steeds tergende vrae oor die samestelling van die Australiese kolflys, met die swaard wat steeds hang oor voormalige wêreldsterre soos Ricky Ponting en Michael Hussey.
Ponting het twee vyftigtalle in dié wedstryd gemoker, terwyl Hussey se vegtersbeurt van 89 in die tweede beurt deurslaggewend was. Albei veterane sal egter weet dat een swaeltjie nie ’n somer maak nie en dat hulle nóg groot lopies in die drie oorblywende toetse van die reeks sal moet aanteken.
Dan is daar die paaltjiewagter Brad Haddin. Hy kolf steeds soos ’n miljoenêr, al het hy 23 toetsbeurte laas ’n honderdtal gemoker. Dit is geen geheim in Australiese krieketkringe nie dat hy lankal die trekpas sou gekry het as die jong paaltjiewagter Tim Payne nie deur ’n reeks beserings geteister is nie.
Daar was darem vandeesweek goeie nuus vir die Aussies, met die ervare swaaibouler Ryan Harris wat herstel het van sy heupbesering.
Harris se terugkeer beteken dat die Aussies moontlik vier naatboulers kan kies vir die Sydney-toets.
Die huidige naatboulers Ryan Pattinson, Ben Hilfenhaus en Peter Siddle was uitstekend as ’n eenheid in die eerste toets terwyl die onervare draaier, Nathan Lyon, nie juis ’n impak gehad het nie.
Sydney is egter ’n blad wat altyd die draaiers help. Dís nogal ’n tameletjie vir die Aussie-keurders.