29 uit 29 vir kanonpoot Morné
2010-09-11 23:00
Kommer oor Morné Steyn se skopvermoëns was duidelik onnodig, nadat die Springbok-losskakel in die afgelope Drienasies-reeks met ál sy skoppe pale toe geslaag het.
Steyn het 29 keer aangelê en die bal 29 keer deur die pale gejaag vir ’n uitsonderlike skopvertoning. As in ag geneem word dat hy dus met ál sy skoppe in Auckland en Wellington geslaag het – waar die Springbokke volgende jaar die meeste van hul wedstryde in die Wêreldbeker-toernooi behoort te speel – is dit die één stukkie goeie nuus vir die span wat andersins maar ’n droewige tyd in Nieu-Seeland beleef het.
Trouens, Steyn se laaste mislukte skop in ’n Bok-trui was in die eerste toets teen Italië in Witbank, 38 skoppe gelede, toe hy Francois Louw se drie probeer verdoel het.
Steyn het aan die einde van verlede jaar, toe die Bokke in Frankryk, Italië en Ierland gespeel het, met 50% van sy skoppe geslaag – en ook op die Bulls se oorsese toer in vanjaar se Super14 met sy skopwerk gesukkel.
Dít het vrese laat ontstaan dat dié puntemasjien net doeltreffend is op sy tuisveld, Loftus Versfeld, of ander Suid-Afrikaanse velde. Dís nou besweer.
Steyn, wat 137 punte in verlede jaar se debuut-seisoen aangeteken het, het vanjaar verskeie voorgangers op die toetspuntelys verbygesteek en is nou derde ná Percy Montgomery (893) en Naas Botha (312).
Louis Koen, Butch James, Jaque Fourie, Henry Honiball, André Pretorius, Bryan Habana, Joost van der Westhuizen, Braam van Straaten en Joel Stransky moes almal een op dié spoglys afskuif.
Steyn het nou 269 – en met die November-toer op hande, kan hy binnekort vir Naas óók verbysteek.