Broekskeur, Bulle
2010-09-18 21:54
Die Blou Bulle se Curriebeker-aanslag is nog op koers – en enigeen wat dié span wil afskryf, doen dit op eie risiko.
Dit het egter gister hier op Loftus Versfeld ’n omstrede geelkaart en hope veggees van die verdedigende kampioene geverg om die Leeus met 24-21 te klop en hul suidelike buurman vir die eerste keer in ses wedstryde die verloorsmaak in die mond te gee.
Die Leeus sou sekerlik al klaar gal op die lippe gehad het ná ’n voorval waarin Wikus van Heerden ’n geelkaart gewys is ná ’n uiters omstrede hoogvat.
In daardie stadium, ná ’n uur se spel, was die Bulle maar 12-9 voor in ’n stryd wat in die loopgrawe baklei is.
Jacques-Louis Potgieter, wat vroeër in die wedstryd met drie pogings pale toe misluk het, het die kantlyn opgesoek – en van die daaropvolgende aanvallende lynstaan is Gerrit-Jan van Velze deur.
’n Puik drie deur Stefan Watermeyer, ná hy deur ’n paar duikslae gebars het, het skielik die telling tot ’n wenvoorsprong oopgeruk, maar die Leeus was allesbehalwe klaar gespeel.
Drieë deur Doppies la Grange en Waylon Murray én ’n geelkaart teen Potgieter het die wedstryd op die mees dramatiese wyse moontlik laat eindig.
Die Bulle kon egter vasbyt en dié een deurtrek om weer na die derde plek op die punteleer op te skuif.
Die Leeus is steeds in die wedloop – en ’n oorwinning komende naweek teen die Haaie kan hulle aansprake versterk.
Die tweede helfte was veel meer opwindend as die eerste (6-6), wat net flouerige skopwerk deur Potgieter en Elton Jantjies opgelewer het.
Laasgenoemde is belowend, maar ver van die wonderkind wat hy gemaak word.
Potgieter sal ook nie sy eerste helfte poging lank wil onthou nie, daarvoor was sy korrel net te windskeef.
Die eerste helfte was maar tipies van dié twee spanne teen mekaar, met die behoefte om die dinges uit mekaar te duik, die grootste oorweging.
Dit was veral in die skrums die opvallendste, waar skeidsregter Craig Joubert gereeld op sy fluitjie was vir tegniese oortredings.
Nie dat Joubert kwalik geneem kan word vir te veel polisieman wees nie, maar eerder ’n bewys hoe graag die voorry ’n voordeel oor die teenstander wou kry.
Die groot besprekingspunt in die eerste helfte was die skopwerk pale toe.
Ja, as swak skopwerk pale (Jantjies het twee gemis en Potgieter drie) die hoogtepunt was, gee dit ’n goeie idee van die res se geploeter.
Ná Jantjies sy rekening in die eerste minuut kon open toe die Bulle onkant was, het Potgieter sy eerste skeef getrek ná ’n tegniese oortreding deur JC Janse van Rensburg by die eerste skrum.
Goeie fasespel deur die Bulle dwing egter die Leeus onkant en dié keer het Potgieter reg van voor geen fout gemaak nie,
Jantjies se eerste poging was sy 20ste agtereenvolgende skop deur die pale, maar sy 21ste was teen die regoppaal.
Hy laat wel net daarna die vlae swaai, toe Dean Greyling gestraf is vir ’n skrum-oortreding.
Die Leeus het hul agtsteman, Warren Whiteley, met ’n besering verloor en hy is deur Van Heerden vervang.
Dié oud-Bul het hom vinnig laat geld en Potgieter onder stof geloop met ’n hoogvat.
Die losskakel, wat kort tevore met sy tweede misluk het, het dié een deurgejaag, maar net voor rustyd weer van vlakvoor misgeskop.
Jantjies het ook in die laaste sekondes wéér in die paal vasgeskop, om albei spanne alles te gee om voor te speel in die tweede helfte.
En hét hulle nie juis dít gedoen nie!