Curriebeker-turksvy
2010-09-18 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Curriebeker-kompetisie is die voorste prioriteit in Suid-Afrikaanse rugby. Perdemis is vye. Elvis Presley bestuur ’n vetkoek-winkel anderkant Drie Susters.
Van die vorige drie stellings is dit insiggewend dat nommer 3 die enigste is wat selfs die geringste moontlikheid van waarheid inhou … maar die SA Rugby-unie het ons nietemin vandeesweek probeer wysmaak dat die geskiedkundige Curriebeker-reeks die belangrikste prioriteit in Suid-Afrikaanse rugby bly.
Dit is, natuurlik, lank reeds nie meer die belangrikste prioriteit in Suid-Afrikaanse rugby nie – en die program vir aanstaande seisoen se eerste Super15-reeks, wat verlede week bekend gemaak is, het dit bloot bevestig.
Sowel die skok dat die Curriebeker-reeks voortaan afgewater gaan wees as die ontkenning van só ’n moontlikheid deur die rugbybase is egter verstommend – dié kompetisie is reeds jare lank afgewater en hierdie geskop-en-hardloop wat ons oorwegend reeds sedert Julie aanskou, bevestig dit net.
Die Bulls en die Stormers, wat die Super14 in plaaslike geledere oorheers het, knor byvoorbeeld maar in die Curriebeker-kompetisie omdat ’n hele boel van hul voorste spelers nie beskikbaar is nie.
Só is dit al jare: die Super14-kampioen lewer die meeste Springbokke – en moet dan sy Curriebeker-hoop aan ’n draadjie hou totdat die Bokke van Drienasie-verpligtinge kwytgeskeld word.
Dan is dit ’n heel ander transaksie.
’n Span wat tans teen die Bulle sonder sy Bokke speel, geniet ’n yslike voordeel bo ’n span wat dieselfde Bulle mét sy Bokke moet pak. Soos sake tans staan, is die Curriebeker-kompetisie grotendeels onregverdig en onsinnig, maar niemand kla nie, want die hele premis is uit die staanspoor verspot.
Agt spanne speel meer as drie maande onder mekaar uit om te bepaal watter een van die vyf groot unies val uit vir twee uitkloprondes? Dis mos belaglik. Selfs Griekwas, ’n veel gedugter span as wat enige van ons ’n reg het om van ’n kleiner unie te verwag, kan net verwag om so een maal per dekade die kastaiings uit die vuur te krap.
Die Curriebeker-kompetisie, soos hy nou daar uitsien, is al lank onsinnig en onregverdig, maar ons hoop sal sekerlik beskaam as ons op Suid-Afrika se rugby-owerstes wag om met verbeeldingryke alternatiewe vorendag te kom.
Varsitybeker-rugby gryp die verbeelding aan, al trap die helfte van dié spelers klei op Vodacombeker-vlak. Mense geniet dit egter nie net vanweë die vrotterige verdediging en ywerige aanvalle nie, maar omdat dit iets anders is in ’n seisoen waar ons ál meer en meer dieselfde gesigte elke week sien speel.
As die Curriebeker weer iewers anders as in Bloemfontein gesien wil word as die sogenaamde kroonjuweel, sal daar drasties aan hom gepoets moet word.
Die vyf tradisionele toets-unies pak mekaar nou reeds twee maal in die nuwe Super15 – en die keersy van die ekstra geld uit hierdie derby-kragmetings is natuurlik dat die derbies ál minder spesiaal vir die toeskouer word.
Dus, van Bloemfontein gepraat: wat van ’n tipe State Of Origin-kompetisie, waar nie-Springbokke in ’n uitklopreeks speel vir die unies wat hulle gelewer het? So iets sal, per definisie, in Bloemfontein en ander voeder-unies aftrek kry, maar ons kan net daarvan droom.
Wat dan van ’n behoorlike landswye uitklop-toernooi, waar die kleinste klubs reeds in Maart begin uitspeel, maar elke speler in die land teoreties betrek word?
Dít gaan stellig nie gebeur nie.
Die Curriebeker-kompetisie sal maar min of meer op dieselfde koers voortploeter; ’n afgewaterde weergawe van die Super14 en ’n opgepompte weergawe van die Vodacombeker-kompetisie.
Voorste prioriteit in SA rugby?
Maak myne met maalvleis en kaas, Elvis.