Duane reik na Spies se nr. 8
2010-09-18 21:55
Rustig.
Dis nie ’n woord wat jy normaalweg met Duane Vermeulen sal assosieer nie, veral nie as jy sien hoe hy die kontak oorheers wanneer hy die bal dra nie.
Maar dis nietemin hoe hy voel oor al die praatjies van hom en die Groen-en-Goud.
“Elke ding het sy tyd,” sê dié rateltaai agtsteman van die WP. Ek weet die mense praat, maar ek is rustig daaroor en vat dinge soos dit kom.”
Dalk spruit daardie rustigheid uit die wete dat dit net ’n kwessie van tyd is. Indien Vermeulen beserings kan vryspring, behoort sy tyd op Suid-Afrika se Grand Slam-toer aan die einde van die jaar te kom.
Dié 24-jarige boorling van Nelspruit was al in 2008 vlugtig in die nasionale keurders se planne nadat hy puik in die Cheetahs se Super14-veldtog vertoon het, maar ’n nekbesering het sy kans om toetsrugby te speel in die wiele gery.
Dit het allermins sy geesdrif gedemp – en hy was sekerlik een van die ongelukkigste spelers in Suid-Afrika om nie vanjaar vir sy puik spelpeil vir die Stormers en daarna vir die WP beloon te word nie.
Vermeulen het egter net sy praatwerk op die veld gedoen – hy sê hy sal “aanhou werk” om die Bok-droom wat hy sedert kleintyd koester, te verwesenlik.
Terwyl Duane die wêreld plaaslik aan die brand gespeel het, was Pierre Spies een van vele Bokke wie se spelpeil nie op toetsvlak na wens was nie.
Die rede daarvoor lê waarskynlik opgesluit in die hoeveelheid rugby wat Spies sedert verlede jaar moes speel. Dit maak nou sin om hom te laat rus en vir Vermeulen ’n kans te gee om te wys wat in hom steek.
Spies se Bok-adjudant op agtsteman, Ryan Kankowski, se spel is grootliks op sy vaart geskoei en hy sal dalk nie so doeltreffend soos Vermeulen in die Noordelike Halfrond wees nie.
Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, kan natuurlik ook besluit om ’n yster soos die Haaie-losvoorspeler Willem Alberts in te span.
“Die mededinging is ’n goeie ding. Daardie is drie goeie spelers,” sê Vermeulen.
“Ryan se spel gaan oor spoed, Pierre het krag en Willem is óók ’n goeie baldraer. Dis vir my lekker om tussen hulle genoem te word. Ek hou daarvan om voor by die aksie te wees, maar ook om van agter met my dekverdediging ’n verskil te maak of om terug met die bal te hardloop. As agtsteman moet jy die skakel tussen die voor- en agterspelers wees.
“Dis lekker om van agter af te hardloop. Ek poog om lank op my voete te bly en die verdediging só besig te hou tot die ondersteuning kom.”
Ofskoon hy ’n sterk baldraer is, is Vermeulen se grootste deug bo agtstemanne soos Spies en Kankowski die feit dat hy meer op die fisieke aspek van die spel ingestel is.
Hy is veral doeltreffend op die verdediging en hy het ook gereeld in die Super14 omkeerbesit by die afbreekpunte gewen.
Vermeulen is baie dank aan die WP se direkteur van afrigting, Rassie Erasmus, vir sy opgang verskuldig.
Erasmus het hom in 2006 by die Pumas raakgesien en hom gepols oor ’n skuif Bloemfontein toe. Sedertdien het hy die voormalige Bok-losvoorspeler ook Kaap toe gevolg.
“Ek het die Curriebeker by die Vrystaat gewen, maar ek wil graag ook ’n Superrugby-titel op my kerfstok kry. Die probleem by die Cheetahs is die gebrek aan diepte. Ek het vir Rassie gevolg en hoop om resultate te kry. Dit was darem ’n eerste vir die Stormers om die Super14-eindstryd te haal. Dis reeds ’n stappie nader.”
Terwyl Erasmus ’n groot invloed in sy loopbaan was, het Vermeulen ook baie kennis by spanmaats opgedoen: “Ek het baie by Juan Smith geleer, veral oor mededinging in die lynstane. Ollie le Roux het my oor kommunikasie touwys help maak. Jy leer baie by senior spelers.”
Suid-Afrika se toer na Brittanje en Ierland kan egter grotendeels oor ’n paar Jong Turke in die Bok-span gaan.
Hou gerus hierdie een dop, want rustig gaan hy beslis nie wees wanneer hy uiteindelik daardie Groen-en-Goue trui oor sy kop trek nie.