Duitsers looi Suid-Afrikaanse kleivoete
2010-09-18 21:55
Die Suid-Afrikaanse Davisbeker-span moet nog ’n jaar wag vir die kans om terug te keer na die gesogte Wêreldgroep nadat hulle gister die dubbelspelwedstryd van hul kragmeting met Duitsland verloor het.
Die Duitsers het Vrydag albei enkelspelwedstryde gewen en gister ’n onaanvegbare voorsprong van 3-0 in die kragmeting geneem toe hulle die Suid-Afrikaners se onvermoë op rooi klei uitgebuit het.
Andreas Beck en Christoper Kas, twee jongelinge wat nog nooit voorheen ’n Davisbeker-wedstryd gewen het nie, het die ervare SA duo, Wesley Moodie en Rik de Voest, totaal oorheers op ’n stadige oppervlak in Stuttgart.
Hul wentelling was 6-4, 3-6, 6-3, 6-4.
Dit was altyd duidelik dat die Suid-Afrikaners ’n haas onbegonne taak teen die Duitsers sou hê. Want dis Duitsland, die wêreld se tiende beste span. En dis op rooi klei – ’n oppervlak waaraan spelers nie blootgestel word in Suid-Afrika nie omdat daar nie kleibane hier is nie.
John-Laffnie de Jager het juis Vrydagaand gesê sy land moet dringend kleibane bou. Heel tereg ook: watter kans het Suid-Afrika om wêreldklas-spelers te ontwikkel as jongelinge net op een oppervlak kan leer speel?
Die vraag ontstaan: hoeveel jong mense moet hul geboorteland nog verlaat om oorsee aan hul tennistalente te slyp voordat die sirenes in die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Tennisvereniging (SATV) begin loei?
Die SATV moet nou begin plan maak – ter wille van die duisende jong spelers wat droom van sukses by Roland Garros en Wimbledon.
Maar terug na die hier en nou.
Die Suid-Afrikaners se nederlaag – hul eerste in ’n dubbelspel-wedstryd in byna twee jaar – beteken dat hulle een van hul enkelspelwedstryde vandag moet wen om ’n vernederende skoonskip-nederlaag te vermy.
Dit gaan reeds taai wees. Izak van der Merwe, die span se nr.?1-speler, kom te staan teen Philipp Kohlschreiber, die wêreld se nr. 31.
En hy is eenvoudig nie in dieselfde klas as die Duitser nie.
De Voest, wat Vrydag in skoon stelle teen Kohlschreiber verloor het, is waarskynlik reeds poegaai ná twee taai wedstryde. Hy sal vandag op sy laaste reserwes moet trek.