Hougaard 'wil net jôl'
2010-09-04 23:59
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
J.J. HARMSE IN BLOEMFONTEIN
Onopgesmuk. Wat jy sien, is wat jy kry.
Dít is Francois Hougaard vir jou. Nederig oor sy suksesse, maar terselfdertyd vol vertroue in sy vermoëns. Bedees oor roem, maar nie skaam oor sy kraaines-haarstyl of blink stel wiele nie.
’n Verbete mededinger, maar nog steeds jonk en geesdriftig genoeg om die lewe te geniet.
Dié 22-jarige, wat op Robertson grootgeword het, is die nuutste rugbysensasie op Suid-Afrika se rugbyveld – en kenners skud net hul kop oor die omvang van dié talent.
Twee begin-toetse, twee Speler van die Wedstryd-toekennings.
Daardie duikslag verlede Saterdag op Adam Ashley-Cooper. Daardie drie in die Super14-eindstryd.
In Blou Bul-land lag hulle ingenome oor “Hougie”, want hulle sien immers al sedert 2008 hoe dié jong kêreltjie ontwikkel.
En ontwikkel. En ontwikkel.
Trouens, sal die breintrust op Loftus jou vertel, die rede waarom Hougaard die laaste twee jaar op vleuel gekies word, is juis omdat hulle hom op die veld wil hê.
Want ja, op skrumskakel gaan hy nog vir lank die lewe vir Bulle-teenstanders vergal, maar tot tyd en wyl Fourie du Preez einde volgende jaar sy tasse pak, sal hy op vleuel én senter deel wees van die Blou masjien.
“Ek weet waar my plek is. Skrumskakel is beslis my toekoms, maar met Fourie daar, sou ek altyd tweede viool speel dié jaar. So ek het nie omgegee oor vleuel nie, ek wou net op die veld wees. En dit gee my terselfdertyd kans om saam met Fourie op die veld te wees en eerstehands te ervaar hoe hy dink en dinge doen.”
Dit behoort nie vreemd te wees dat dié twee baie dieselfde op die veld dink nie – en die bewyse is daar vir almal om te sien. Gaan kyk maar hoe het Hougaard deur die eerste gaping gekom in daardie Orlando-eindstryd voordat hy Joe Pietersen vir dood gelos het.
Hougaard se respek vir Du Preez is welbekend, maar die teenoorgestelde is ook waar.
Du Preez skroom nie om Hougaard as opvolger in die Bokke se nr. 9-trui te bemark nie – en ná wat die land die afgelope twee weke gesien het, gaan min stry.
;?Dis moeilik om te glo dat Hougaard nooit Cravenweek-rugby gespeel het nie.
“Ek het darem vir die Boland se o.12-span vleuel gespeel. Maar die volgende jaar is ek nie gekies nie.”
Daarna was dit Paul Roos Gimnasium toe – en wéér is hy oor die hoof gesien toe die WP-Skolespan gekies is.
Ná skool in 2007 het hy by die WP Rugby-instituut op Stellenbosch aangesluit en skielik was die wêreld aan sy voete.
“Ek het vir die WP se o.19- en o.21-span gespeel en een wedstryd vir die senior span in die Curriebeker-reeks op skrumskakel. Ek was ook in die SA o.19-span, maar as senter,” onthou Hougaard.
Gesprekke met die Blou Bulle se maestro-talent-identifiseerder, Ian Schwartz, het gevolg – en voor jy kon sê dié-outjie-gaan-dit-nog-ver-bring was hy op pad Pretoria toe.
“Ek bly baie lekker in Pretoria, baie dankie. Die mense is vriendelik en ek hou van dié stad. Ek het nie planne om weg te gaan nie,” gee Hougaard die versekering.
“Daar is ’n visie hier om die span tot iets groots uit te bou en ek wil deel wees daarvan.”
Daar is min twyfel dat hy die hele pakkie kan word. Durf en moed, soos om die hele Super14-eindstryd met ’n gebreekte hand te speel. Vaardigheid en vermoë, soos om moeiteloos op die hoogste vlak in te skakel en uit te blink. Trots en entoesiasme.
“Die Bok-trui is ’n inspirasie. As ek dit aantrek, wil ek net jôl.”