Provinsiale rugbybase kan nie wyer kyk as eie nessie
2010-09-11 23:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit was nie te lank gelede nie dat Die Mol ’n spesiale boodskappie vir Jurie Roux in hierdie einste spasie gehad het.
Dié geleerde rekenmeester word mos volgende maand SA Rugby se uitvoerende hoof. Ai, hoe wens Die Mol toe nie die afgelope week Jurie is al klaar daar nie.
Met al die drama rondom die gekontrakteerde Bokke wat nie in die Curriebeker mag speel nie en toe mag speel en toe weer nie mag speel nie, was dít die versugting van Die Mol en sy pêlle gisteraand langs die kole.
Want, só lyk dit vir Die Mol en sy vrinne, uitvoerend is wat nou daar neffens die Liesbeek se rugbykantore kortkom.
’n Baas wat ’n besluit kan neem en ’n einde maak aan die ewige geneul van elke provinsiale CEO en president wat vir niks anders omgee as sy eie nessie nie. Maar dan vinnig bakhand staan vir ’n toetskaartjie as die Bokke speel. Dieselfde Bokke wie se belange niemand nou voorop wil stel nie.
Kyk, Die Mol hét verlede week sy vriendskapsbande met ou Snorre verbreek, maar dit beteken nie die Bok-afrigter is nou sy vyand nie. En wat die provinsies nou doen – kan almal rêrig so bang vir Bakkies wees? – is nie reg teenoor Snorre nie.
Waar moet Bakkies en Bismarck en Adi Jacobs vir die volgende twee maande speel?
Sal daardie provinsies en hul CEO’s wat so heftig teen die Bokke se deelname kapsie maak, dieselfde met hul eie afrigter en spelers doen?
Kyk, rugby was koning in dié land van ons, so min as drie maande gelede. Die Bulls het Soweto oorgeneem en selfs Danny Jordaan het erken daardie gebeurtenis het die grondslag vir die WB-sokkertoernooi gelê.
Maar nou het die Springbokke hul pronk verloor, ou Snorre het dit wéér reggekry om bitterbek Komphela en kie. se neuse terug te kry in rugby – en nou doen ons provinsies hul bes om die Bokke se beplanning te kelder.
Dan kom die Spelersvereniging ook nog en sê hulle wis van niks.
Dit het die Mol só ontstig hy het amper die vleis verbrand. So asseblief, ou Jurie, hoor tog by Maties én by Regan of jy nie solank één besluit kan neem nie.
Die Mol en sy pêlle het anderdag nog gestry oor of ons agbare eerwaarde nog aktief in die sportpolitiek is.
Wel, hy ís – en daar verloor Die Mol toe ’n onvervalste R200-noot toe minister Stofile so onverwags soos ’n Noord-Koreaanse president sy opwagting by Komphela-hulle se portefeulje-komitee oor sport maak.
Hy het kom aandui hoekom Saskok weier om hul tug-optrede teen Leonard Chuene, die komitee se groot vriend, te kom verduidelik. Sy bevinding, dat Chuene téén mediese advies vir C(astertjie) in Berlyn laat hardloop het, was duidelik nie goed genoeg vir die aangeklaagde atletiekbaas se vrinne nie. Kla ene Mgolodi Dikgacwi toe by die eerwaarde: Maar sy het dan gewen, so Chuene was reg.
Ai tog, red nou ’n nasie. Jurie ou maat, jy weet nie dalk iets van atletiek óók af nie?