Rahme gaan leer by Aussies se superster
2010-09-11 23:00
Op 11 Oktober in Nieu-Delhi tree die 19-jarige paalspringer Cheyne Rahme op sy eerste Statebondspele vir sy eerste kompetisie in vyf maande aan.
’n Dyspierbesering het hom uit die Afrika-kampioenskappe, die Interkontinentale Beker verlede week in Split, Kroasië, én die skatryk Europese internasionale reeks gehou.
“Ja,” sê dié Johannesburgse student wat in April Okkert Brits se SA junior rekord (5.46) ná 18 jaar tot 5.50 verbeter het, “ek sal in Indië so ’n bietjie kompetisie-verroes wees.
“Maar ek is weer 100% fiks, nadat ek die afgelope maand amper dag en nag geoefen het. Natuurlik sal ’n Spele-medalje iets besonders wees, maar ek beskou Nieu-Delhi as net nóg ’n tree om internasionale ondervinding op te doen.
“En dis sommer ’n gróót tree, want ek gaan die eerste keer in my lewe teen ’n ou spring wat al hoër as 6 meter oor die dwarslat is. En dis nie sommer enige 6 meter-ou nie – dis die Aussie Steve Hooker, wat met sy 6.06 van verlede jaar nommer 2 op die wêreldlys van alle tye naas Sergei Bubka (6.14) is.
“Ek was nog nooit eers in ’n kompetisie waarin ’n teenstander 5.60 spring nie. Ek sien verskriklik daarna uit – en, wie weet, hy inspireer my dalk net daardie ekstra bietjie om weer ’n 5.50 of selfs hoër te spring.”
Hooker, die huidige Olimpiese en wêreldkampioen, beleef ’n wipplank-jaar. Hy kon op verskeie byeenkomste nie op begin-hoogtes van so laag as 5.40 slaag nie – maar hy’t laas naweek in Kroasië die Interkontinentale Beker-titel op ’n yslike 5.95 gewen.
Cheyne het, daarenteen, vroeër vanjaar in die plaaslike seisoen vóór sy besering op feitlik byeenkoms ná byeenkoms skouspelagtig verbeter. Hy het die jaar met ’n persoonlike beste van 5.30 begin en dit geleidelik opgeskuif tot uiteindelik 5.50.
Net Hooker in die Statebond kon vanjaar hoër.
Cheyne sê hy het die afgelope klompie maande in sy rehabilitasie-tydperk “net eenvoudig nie tyd gehad om op losmaker-byeenkomste in Europa vir Indië te gaan slyp nie.
“Die sowat drie weke wat ek direk ná my besering by die huis gesit en niks doen het nie, was die langste in my lewe dat ek nie aan ’n paal gevat het nie.
“Ja, vyf maande sonder kompetisie ís lank – maar ek het verlede jaar óók maande ná die SA seisoen die eerste keer in Augustus in Mauritius op die junior Afrika-kampioenskappe meegeding. En ek het toe met die beste sprong van my lewe (5.30) gewen.
“So, ek skrik nie vir Nieu-Delhi nie.”