SA swemmers wen nóg 5 goues
2010-09-18 21:55
Die Suid-Afrikaanse swemspan op die senior Afrika-kampioenskappe in Marokko het Vrydagaand nóg ’n regmerkie verdien, toe hy skoonskip gemaak het deur goud in ál vyf eindrondes op te raap.
Benewens dié totale oorheersing, het die Suid-Afrikaners boonop ook nog nuwe byeenkomsrekords in vier van die vyf items opgestel.
Wesley Gilchrist, Mandy Loots, Darren Murray en Karin Prinsloo het almal hul onderskeie individuele nommers gewen.
Prinsloo het ook goud in die 4x100m-wisselslag saam met Vanessa Mohr, Chanelle van Wyk en Kathryn Meaklim ingeoes.
Gilchrist het Suid-Afrika se goue aand afgeskop, toe hy Egipte se Marwan Osman met meer as vier sekondes geklop het in die eindronde van die 200 m-vlinderslag.
Sy tyd van 2 minute en 00.72 sekondes het die vergeelde agt jaar-oue byeenkomsrekord verbeter.
Mandy Loots het die 200-individuele wisselslag in ’n tyd van 2:16.77 gewen en sodoende haar eie byeenkomsrekord verbeter. Haar landgenoot Bianca Meyer was derde.
Darren Murray het sy tweede goue medalje van die byeenkoms met ’n rekordtyd van 55.67 in die 100-rugslag verseker.
Khaled Hussein Mohamed van Egipte was tweede – byna drie sekondes agter Murray.
Prinsloo het Suid-Afrika se laaste individuele oorwinning van die aand in die 50-vryslag gewen. Haar tyd was 26.31.
Van Wyk was in dié item derde in 26.76.