Spele-ramp dreig
2010-09-11 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Atletiek Suid-Afrika (ASA) se laaste, desperate poging om die piepklein SA atletiekspan na die Statebondspele te vergroot, het misluk.
En ’n groot vraagteken hang oor die deelname in Nieu-Delhi van twee van die land se sterkste gouemedalje-kandidate, 800-wêreldkampioen Mbulaeni Mulaudzi en die Olimpiese en wêreldkampioenskap-silwermedaljewenner in die verspring, Khotso Mokoena. Albei lek tans wonde met beserings.
En ’n nóg groter vraagteken hang oor die huidige vorm van nóg vier van die land se sterkste medalje-kandidate, 800-wêreldkampioen Caster Semenya, huidige Statebondskampioene LJ van Zyl (400-hekkies) en Elizna Naudé (diskus) en hamergooier Chris Harmse.
Met skaars 20 dae voordat die eerste pistoolskoot in Nieu-Delhi klap, skilder dié gebeure ’n bra somber prentjie van SA atletiek se vooruitsigte op ’n byeenkoms waar hy op die vorige Spele, in 2006 in Melbourne, ’n dosyn medaljes (5 goud, 2 silwer en 5 brons) gewen het.
ASA het by die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) gepleit om die atletiekspan na Nieu-Delhi van 11 tot 22 te vergroot – maar Saskok het dié pleidooi “van die tafel gevee.”
Richard Stander, tussentydse kantoorhoof van ASA, sê aan Rapport: “Ons aanvaar nou die deur is finaal gesluit, ondanks ons pogings om ’n 4x100-mans-aflosspan, die junior wêreldkampioen in die verspring Luvo Maniyonga, 400-hekkiester Cornel Fredericks en spiesgooier Hardus Pienaar by die Saskok-aanvaarde elf spanlede te voeg.”
Volgens Stander is ’n “goed-gemotiveerde” voorlegging op 1 September aan Saskok gedoen.
Dit was ’n paar dae voordat Pienaar verlede Sondag in Split, Kroasië, op die Interkontinentale Beker-byeenkoms met ’n 83.17 ontplof en die silwermedalje vir Afrika gewen het.
Dié afstand plaas Pienaar nommer 2 op vanjaar se Statebondslys, met net die Nieu-Seelander Stuart Farquhar (85.35) beter. Pienaar het in Split afgereken met die Australiër Jarrod Bannister (hy was daar vierde met ’n 79.99), wat vanjaar saam met Pienaar nommer 2 met ’n beste van 83.17 is.
Mokoena moes as Afrika-kampioen dié vasteland in Split verteenwoordig. Hy het hom egter op nommer 99 onttrek – en aan Rapport is gesê sy besering kan hom óf uit Nieu-Delhi hou óf sy gebrek aan kompetisie-fiksheid kan hom kniehalter teen die huidige drie Statebonders wat vanjaar beter as sy 8.23 gespring het (die Aussie Fabrice Lapierre is no. 1 met ’n 8.40).
Mulaudzi het hom al by die Afrika-kampioenskappe weens ’n achilles-besering aan die eindronde onttrek. Volgens sy afrigter, Hezekiel Sepeng, sou Mulaudzi die afgelope week dié besering op twee Europese byeenkomste gaan beproef, “maar voordat hy kon vertrek, het sy achilles hom wéér begin pla. Hy’s nou wéér onder behandeling”.
Dít, terloops, in ’n item waarin die Keniaan David Rudisha met sy onlangse wêreldrekord van 1:41.01 as volslae gunsteling in Nieu-Delhi sal wegspring.
Die 4x100-aflosspan het húl aanspraak op insluiting in die SA Statebondspan nou nie juis verstewig nie, toe hulle in Split, as Afrika-kampioene, derde was met ’n beskeie 39.82. Hulle sou laaste geëindig het as Europa nie hul stokkie laat val en gediskwalifiseer is nie.
Die jong Maniyonga en Fredericks se sesde plekke op die Statebondslys het húlle uit die Saskok-span gediskwalifiseer.
Semenya se skokkend swak vertonings op twee onlangse Europese byeenkomste laat vraagtekens oor háár Nieu-Delhi-gereedheid hang.
Van Zyl se vyfde plek in Split in ’n verswygbare 49.97 – hy is daar selfs deur ’n onbekende en min geroemde mede-Afrikaan van Senegal geklop – was ’n voortsetting van ’n afwaartse kurwe in sý seisoen sedert hy die Afrika-titel met sy beste vanjaar (48.51) gewen het.
Skaars ’n paar weke gelede was sy aanspraak op Nieu-Delhi-goud baie sterk. Sedertdien het die Engelsman David Greene egter as gunsteling ontpop (hy het in Split met sy beste tot dusver, 47.88, gewen).
Naudé lê met haar 64.49 in Februarie tweede in die Statebond ná die Aussie-wêreldkampioen Dani Samuels (vanjaar 65.84) – maar Elizna het in Split met ’n sewende plek met ’n 55.79 klei getrap.
Harmse was óók in Split met ’n sewende plek (71.06) myle van sý beste af. Selfs dié beskeie afstand is egter steeds beter as enigiemand anders vanjaar in die Statebond.
Die enigste rêrige goeie nuus vir SA atletiek uit Split is dat spiesgooier Sunette Viljoen haar posisie as die Statebond se nommer 1 met akklamasie onderstreep het, toe sy die silwermedalje met ’n 62.21 gewen het.
In die proses het sy met onder andere een van haar sterkste Nieu-Delhi-teenstanders, die Aussie Kimberley Mickle (daar derde met ’n 61.36), afgereken.