Warriors in die wolke ná hul triomf in Pro20
2010-03-13 23:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Twee jaar van klippe kou en ’n nimmereindigende soeke na die perfekte wedstryd.
Dís hoe die Warriors Vrydagaand hul tweede spogtrofee van die jaar in Port Elizabeth ingepalm en ’n 17 jaar lange wendroogte in die Baai gebreek het, sê Davey Jacobs.
Dié Oos-Kaapse franchise het die Lions in ’n eensydige eindstryd van die Pro20-reeks met 82 lopies op St. Georgespark afgeransel, nadat hulle vroeër vanjaar ook as die MTN40-kampioenspan gekroon is.
“Dis twee jaar van ongelooflike harde werk wat nou vrugte oplewer,” het Jacobs, die Warriors-kaptein, aan Sport24 gesê.
“Ons was verlede jaar ongelukkig om vier van ons vyf Pro20-wedstryde te wen, maar nie die eindstryd te haal nie –?en ons het daardie ekstra motivering saam met ons geneem in vanjaar se kompetisie.”
Volgens Jacobs was sy span vóór die Lions-slagting steeds nie heeltemal tevrede met hul vertonings nie –?ondanks die feit dat hulle dié kompetisie van meet af aan oorheers en net een groepwedstryd verloor het.
“Regdeur die reeks het óf ons boulers óf ons kolwers goed gedoen, maar nie een keer kon albei werklik in dieselfde wedstryd kliek nie.
“Ons het voor die eindstryd lank gepraat oor die feit dat ons nog nie die perfekte wedstryd gespeel het nie, maar vanaand (eergisteraand) het ons baie naby daaraan gekom.”
- Die Warriors, met hul Protea-kolfaanwinste Jacques Kallis (55), Ashwell Prince (69) en Mark Boucher (27*) aan die spits, het die Lions met ’n tamaai 186/2 in hul toegelate 20 boulbeurte laat steier, voordat hul draai-duo, Johan Botha (2/17) en Nicky Bojé (2/15), die uitklophou geplant het.
“Jacques en Ashwell was briljant.
“Ons het besluit dat ons effens stadiger uit die blokke moet wees om te verseker dat ons ’n ordentlike grondslag het en dan later die langsteel met vryheid kan inlê,” het Jacobs gesê.
“Almal weet reeds wat Mark met die kolf kan doen, maar hy het wéér gewys waarom hy een van die beste afronders ter wêreld is.”
Botha en Bojé moes vir die eerste keer dié seisoen die redwerk doen, nadat die land se nuutste krieketliefling, Rusty Theron, aanvanklik aan die duur kant was.
“Ons resep met die bal was eenvoudig.
“Probeer vroeg met die nuwe bal toeslaan en draai dan die lopiekrane met die twee draaiers toe. Dis ’n ongelooflike gevoel om nog ’n trofee in Port Elizabeth te hê, maar hopelik is dit net die eerste van nog baie.”
Volgens Jacobs sal sy span se voorbereiding vir die Kampioeneliga-toernooi eersdaags begin.
Die Warriors en die Lions sal Nieu-Suid-Wallis dan probeer onttroon, nadat dié Aussie-kampioen verlede jaar stof in die oë geskop het van streekspanne van onder meer Engeland, Indië, Suid-Afrika, Nieu-Seeland en die Wes-Indiese Eilande.
“Daar is geen rede waarom ons nie kan goed doen in dié toernooi nie.
“Ons moet die momentum behou en hoop dat soveel moontlik van ons topspelers kan deelneem.”
- Rapport