5 mik hoog
2012-01-28 23:14
Kanselleer maar môre se skoolraadsvergadering, afspraak met jou versekeringsmakerlaar of uiteet met die familie, want dis weer tyd vir Varsityrugby.
Die aksie skop af met die skild-kompetisie, waar ’n plek in die beker-kompetisie die gróót geelwortel vir die Universiteite van Wes-Kaapland (UWK), Sentrale Tegnologie (Ixias), Fort Hare, KwaZulu-Natal (UKZN) en Wits is. Die skild-wenner speel volgende jaar in die Varsitybeker en die ander finalis kry die kans om in ’n promosie-/relegasiewedstryd teen die bekerspan te speel wat tweede laaste klaarmaak.
Vanjaar se kompetisie gaan veel strawwer wees as in die debuutjaar in 2011, waarsku die afrigter van die Ixias, Theuns Hanekom. Sy span is die verdedigende kampioen.
“Al vyf spanne sou baie geleer het in 2011. Tóé het ons nie regtig geweet wat om te verwag nie, wat die intensiteit van spel sou wees nie en hóé om die momentum van die seisoen te bestuur nie.”
Hul openingswedstryd is teen Wits.
Die Wits-afrigter, Andy Royle, erken dat die dood van hul heelagter, Sean Menton, vir hulle ’n terugslag gaan wees.
“Dit gaan ’n emosionele jaar vir ons wees, want Sean was ’n sleutelfiguur in die span. ’n Ander oud-spanmaat van ons, Solly Tyibilika, is natuurlik óók oorlede, so ons behoort met heelwat emosie te speel.”
In Alice sit die UWK en Fort Hare hul tradisionele onderonsies voort.
Elliot Fana, wat Fort Hare brei, het die afgelope week op die bekendstelling van die toernooi by Blair Atholl buite Johannesburg gesê hul groot uitdaging is om weekliks dieselfde intensiteit te handhaaf. “Ons was te wisselvallig in 2011.”
Die UWK se jongelinge sal inspirasie daaruit put dat een van hul spanmaats van verlede jaar, Anthony Volminck, nou saam met die Lions vir Super-rugby voorberei.
“Ons besef hoe belangrik dit is om goed te begin en dan dié momentum te gebruik,” het Oliver Jansen hul afrigter, gesê.
Die UKZN se ervare afrigter, Bryan Bateman, was stilweg positief oor sy Impi’s se kanse.
“Ons moes noodwendig groot skuiwe maak sedert verlede jaar en ek dink ons het goed gevorder.”
* Die bepalings vir die eerste twee rondes is (tuisspanne eerste):
30 Januarie: Ixias t Wits (17:00), UFH t UWK (19:00).
2 Februarie: Wits t UFH (19:00, UKZN t Ixias (19:00).