Baba-Bokkies troef Ikeys net-net
2012-01-21 22:56
Die impak van ’n uitmergelende oefenkamp in Stellenbosch het gister swaar op die o.20-Bokkies geweeg, maar nie swaar genoeg om ’n naelskraapse oorwinning van 31-29 oor die Ikeys in ’n oefenwedstryd op laasgenoemde se tuisveld te verhinder nie.
Die telling is egter nie wat gister voor ’n skare van ’n paar honderd mense saak gemaak het nie.
Die wedstryd is in dele van 20 minute elk gespeel met veranderinge wat dan aan elke span aangebring is.
Dis belangrik om die wedstryd in konteks te sien. Vir die Bokkies het dit gegaan om spesifieke dinge wat op die oefenveld geleer is in ’n wedstryd-situasie toe te pas.
En hulle het grootliks daarin geslaag.
Uit die afrigter, Dawie Theron, se kommunikasie hoog bo die veld met sy mense op die grond kon ’n mens aflei dat die wedstryd nie net vir ligte vermaak op ’n Saterdagmiddag gereël is nie.
Tog sal Theron waarskynlik met gemengde gevoelens op die wedstryd terugkyk.
Die Bokkies het uitstekend begin en die eerste 20 minute oorheers.
Hulle het soos ’n goed geoliede masjien oor die hele veld gespeel en die manne van Ikeys nie kans gegee om hul hande op die bal te kry nie.
“Hou die shape, hou die shape,” is deurgaans deur Theron van bo af geskree terwyl sy span die balbesit en gebiedsvoordeel oorheers het.
Die Bokkies het goed geskrum en ’n strafskop van die heel eerste skrum gewen. Die bal is van die daaropvolgende lynstaan deur die hande voordat die buitesenter William Small Smith deur ’n gaping gebars en onder die pale gaan druk het.
Die Bokkies se balbehoud was deurgaans puik en die skrumskakel Kevin Luiters, ’n susterskind van die Stormers-afrigter Allister Coetzee, het sy agterlyn danksy goeie skoonmaakwerk deur die losvoorspelers van voorvoet-bal voorsien.
Maar so puik soos wat die balbehoud was, so swak was die afronding. Twee keer het Luiters deur ’n gaping langs die losgemaal gebars net om die verkeerde opsie te neem en ’n gulde geleentheid vir ’n drie te verspeel.
Waarmee Theron wel in sy noppies sal wees, is die lynstane.
Sy span het dit heeltemal oorheers en met goeie dryfmaalbewegings het hulle die tweede drie van die wedstryd gedruk.
Ook in die skrums het dit goed gegaan, maar verdagte beslissings deur die skeidsregter het die Bokkies verhoed om hul stempel heeltemal af te druk.
Die senterkombinasie van Patrick Howard en Small Smith was sterk op die verdediging, maar het gesukkel om deur die Ikeys se verdediging te dring.
Die verlore intensiteit van die tweede helfte en die Bokkies se moegheid het die wedstryd effens afgewater, maar die drie drieë waarmee die wedstryd geëindig het, het dit mooi op ’n mespunt gebalanseer.
Die haker Mark Pretorius en die vleuel J.J. de Klerk het goed vertoon terwyl Small Smith ook uitgeblink het.