Bokke gaan bars
2012-01-07 23:09
Dis ’n aller-yslike rugbyseisoen wat vanjaar wag, met albei Sanzar se kompetisies wat vanjaar iets ekstra bykry – Super-rugby het vanjaar vir die eerste keer 14 rondes liga-rugby en die Poemas ding vir die eerste maal saam met Bok, All Black en Wallaby mee om die kroon van die Suidelike Halfrond.
En, les bes, sal ’n splinternuwe Bok-breier ’n splinternuwe Bok-span saamsnoer, met talle staatmakers wat uitgetree of oorsee koers gekry het.
Die Bokke sal vir die eerste keer in Junie beproef word, met ’n volwaardige drietoets-tuisreeks teen Engeland.
Spelers soos Victor Matfield, Fourie du Preez, Danie Rossouw, Bakkies Botha, Gurthrö Steenkamp en Jaque Fourie is nie meer beskikbaar nie.
Vir Du Preez en Fourie is daar waarskynlike plaasvervangers in die vorm van Francois Hougaard en Juan de Jongh, maar vir die land se jong slotte is daar ’n yslike geelwortel.
Al vier Bok-slotte wat verlede jaar na die Wêreldbeker-toernooi is, is óf uitgetree óf oorsee.
Flip van der Merwe en Andries Bekker staan waarskynlik voor in die koor, maar hul kollegas Juandré Kruger en Rynhard Elstad is onder dié wat sal verseker dat dit nie sommer net ’n formaliteit sal wees nie.
Daarbenewens het ’n paar juweel-spelers verlede jaar na vore getree – en alle oë sal in die Super-reeks op spelers soos Johan Goossen, Elton Jantjies en Jaco Taute wees om te kyk of hulle al reg is vir die volgende tree boontoe.
Engeland, die Bokke se eerste teenstander, sal moontlik ook met ’n nuwe breier hierheen kom. Stuart Lancaster is aangestel om dié span af te rig deur die Sesnasie-reeks, maar ’n permanente aanstelling sal eers daarna gemaak word.
Die Engelse rugbytoneel is besonder ontstuimig, maar ’n mens kan nie te veel daarin lees nie.
Hoe vrot die Engelse ookal in Nieu-Seeland was, sal hulle reeds vyf toetse agter die blad hê as hulle in Junie hierheen kom, terwyl die nuwe Bok-breier bloedweinig tyd sal hê om vir die eerste toets teen hulle voor te berei weens die verlengde Super-reeks.
Hoewel die Springbokke die reeks behoort te wen, doem die eerste toets teen Engeland in Durban op as ’n moontlike tameletjie.
Daarna kom die Poemas tuis en weg aan die beurt, waarna die jaarlikse heen-en-weertjie na Australasië Doer Onder sal plaasvind.
Die Argentyne is taamlik aan die span bou en nog nie heeltemal op dieselfde gehalte van ’n jaar of drie gelede nie, maar hulle het nietemin tydens die Wêreldbeker-toernooi gelyk of hulle hul storie aan die uitsorteer is.
Die All Blacks en die Wallabies het g’n gehalte verloor nie – trouens, die Aussies is ’n jongerige span, wat waarskynlik vanjaar effens beter sal wees as verlede seisoen.
Die toetrede van die Poemas beteken darem dat die afgesaagde ou formaat van ses toetse teen twee teenstanders darem nou ’n logieser ses toetse teen drie spanne op tuis-en-weg grondslag word.
’n Kampioenskaps-reeks (die effens voorbarige naam waaronder die Drienasie-kompetisie hom voortaan gaan verlustig) is effens moeiliker om te wen as ’n Wêreldbeker: daar is by laasgenoemde kans om te wen sonder om al die groot honde aan te durf, maar in eersgenoemde is daar g’n wegkruipplek nie.
En as dié eers verby is, is daar die jaarlikse reis na Europa.
Dié keer kom Skotland, Ierland en Engeland aan die beurt, maar ’n man hoef nie ’n siener te wees om teen dié tyd al te kan voorspel dat iemand iewers sal poog om ’n afspraak teen Wallis in te druk sodat die bemarkingsmanne weer Grand Slam-stories aan ons kan verkwansel nie.
Dis amper uitputtend om die seisoen te bespreek – bid jou aan hoe gaan dit voel om op die hoogste vlak in hom te speel? In een of ander stadium sal die ringkoppe hopelik agteroor sit en snap: té veel rugby verkort toetsloopbane – en verkorte toetsloopbane lei tot ’n verlaging in die gehalte van toetsrugby.
Ons kan maar net hoop: soos dinge gaan, vrees ’n man die spel se owerstes sal eerder nóg meer verspotte beloftes aan TV-moguls maak.
Intussen kan ons maar net agteroor sit en lekker kyk.