Bokke tem All Blacks in riller
2012-10-13 22:52
Die Nieu-Seelandse rugbybase het onder geldelike druk geswig en die “All Blacks” as naam van die senior nasionale vyftienman-span na ’n breër handelsmerk uitgebou.
En só sal dit in die geskiedenis opgeteken staan dat die Nieu-Seelandse blitsspan sy eerste wedstryd teen Suid-Afrika as die All Blacks Sevens met 21-31 verloor het.
Die Internasionale Rugbyraad se Wêreld-sewesreeks vir 2012-’13 het gister op Skilled Park aan die Australiese Goudkus begin.
En die Springbok-sewesspan was ongetwyfeld die toonaangewende span op dag een. Hulle het vroeë en uiters indrukwekkende seges van 38-0 en 33-5 oor onderskeidelik Kanada en Amerika behaal.
Die groot toets sou die Blitse se laaste groepwedstryd teen Nieu-Seeland wees. Die Kiwi’s het Suid-Afrika sedert 1999 in 37 van hul 48 ontmoetings geklop, waarvan die laaste een vroeër vanjaar met 36-0 was.
Maar die Blitse was gister met twee minute oor 31-7 voor, en die Kiwi’s se twee laaste drieë het hulle bloot van ’n erge verleentheid gespaar – maar nie hul ondergang nie.
Dit was voor die toernooi een van Suid-Afrika se doelwitte om teen die laaste minuut met meer as 8 punte voor te wees – en dit wás hy gister.
Cornal Hendricks het sy indrukwekkende dag met ’n drie teen Nieu-Seeland volgehou, toe hy in die eerste minuut van die wedstryd ’n netjiese hardlooplyn van ’n vaste skrum af geneem en ’n kort aangee van Cecil Afrika in 5 punte afgerond het.
Dié is enkele oomblikke later met Paul Delport se eerste van twee drieë op sy 28ste verjaardag opgevolg – ook vanaf vaste spel.
Suid-Afrika se vroeë druk, vermoë om Nieu-Seeland van die bal te weerhou en druk op die verdediging, het eindelik die deurslag gegee. Voorts het ’n speler soos Stephan Dippenaar ná ’n moeilike seisoen in dié einste wedstryd wasdom as ’n sewesspeler bereik.
Die Bokke het vanoggend om 03:58 in die kwarteindronde teen Frankryk gespeel – en hopelik om 07:58 in die halfeindronde teen of Fidji of Samoa.
Suid-Afrika se voorlaaste oorwinning oor Nieu-Seeland was verlede November in Dubai, maar ’n goeie eerste dag is vroeg die volgende oggend in die kwarteindronde deur einste Frankryk beduiwel.
Paul Treu se troepe sou gister verskeie kassies van vorige kwale kon afmerk, wat skielik tot die verlede behoort het. Hulle was beter by die afbreekpunte, het ruimte knap aangewend en op die oog af geglo hulle kan enigiets regkry.
’n Ander historiese swakpunt, wat hulle vanoggend en deur die dag kan afskud, is Tweededag-sindroom – die Bokke se onvermoë om hul goeie peil oornag te behou.
Indien hulle vandag nóg kliniese en selfversekerde vertonings soos gister kan lewer, is daar ’n goeie kans dat hulle die All Blacks om 11:04 weer in die bekereindstryd kan raakloop.
En dáár sal die antwoord op hul laaste en grootste sielkundig toets lê – kan die Springbok-sewesspan die All Blacks in agtereenvolgende ontmoetings klop?