Die Mol: Met Heyneke gaan Bok-rugby gou weer pronk
2012-01-28 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Vrydag ’n reuse-tree vorentoe gegee toe hulle die gewese Blou Bul- en Bulls-breier Heyneke Meyer as die nuwe Springbok-afrigter aangestel het.
Vir die eerste keer in jare het Saru se bestuurslede en amptenare nie onder politieke druk geswig nie en sonder om te veel te stry die beste kandidaat as nasionale breier aangewys.
Daarom gaan Die Mol nie vandag enigiets anders nie as dankie en tatta sê vir Meyer se voorganger en hoop dat die verguising van Bok-rugby nou tot die verlede hoort.
Meyer is ’n groot vrind van Die Mol en daarom skaar Die Mol hom van vandag af weer vierkantig agter Saru en Springbok-rugby.
Dat Die Mol en Meyer egter tog oor die volgende paar jaar waarskynlik hier en daar gaan vassit en koppe stamp, is straks ’n gegewe ondanks wedersydse respek vir mekaar.
Ja, Bok-afrigters is elke dag van hul lewe onder druk en goeie resultate is eintlik al wat die kritici se monde snoer en die wolwe van die deur af weghou.
Die Mol verstaan maar alte goed dat beserings en talle ander faktore resultate op die veld kan beïnvloed, maar vir Die Mol gaan dit nie altyd oor wen of verloor nie.
Die regte spankeuses, die nodige passie en totale toewyding is wat Die Mol wil sien elke keer wanneer die draers van die Groen en Goud op die veld draf.
Daar is nie meer iets soos maklike toetse nie én die toetsarena is beslis nie die plek vir proefnemings nie.
Die Mol het die laaste tyd heelwat met Meyer gesels en het een van die dae ’n geheime vergadering met hom om hom ’n bietjie touwys te maak in mediaverhoudinge.
Op dié vergadering sal Die Mol beslis sy plig teenoor die volk nakom en hard met die nuwe breier praat oor toekomstige spankeuses en watter spelers dadelik onder hul alies geskop moet word.
Heyneke, ons gaan die pad saam met jou stap en Die Mol sal jou nie vir die wolwe gooi nie. Maar jy sal moet luister na wat die mense sê. Jy kan nie soos jou voorganger net maak wat jy wil nie. Jy kan ook nie soos jou voorganger net kies wie jy van hou nie. En jy kan nie soos jou voorganger die een onsinnige stelling na die ander maak wat die land en die span in die verleentheid plaas nie.
Die Mol het hom lankal die reg toegeëien om die hardste te skree sou die Bok-afrigter droogmaak en nie luister nie, maar hy vertrou dit gaan in die toekoms nie meer nodig wees nie omdat hy weet jy besef die erns van die saak en wat nodig is om suksesvol te wees.
Ter afsluiting wil Die Mol vandag twee van sy ander groot rugbyvrinde op die skouer klop. Hulle het ’n beduidende en deurslaggewende rol gespeel in Heyneke se aanstelling.
Die eerste een is Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux, wat hom nie laat keer om die regte besluite en aanstellings te doen nie, en die tweede een is die Saru-president, Oregan Hoskins, wat stilweg die spel in die regte rigting stuur.
Dankie Jurie, dankie Regan. Danksy julle twee gaan Springbokrugby eersdaags weer pronk.
Met die Bokke wat nou weer in Die Mol se goeie boekies is, gaan hy sy aandag die volgende weke na krieket en meneertjie Majola verskuif.
Dat ’n onbekwame sportadministrateur soos Gerald nog oorleef, is om van te sidder. Daar is eenvoudig nie meer plek vir moegoes in SA sport nie en dis tyd vir Majola om te gaan.
Vreugde!