Gaping vir Lambie
2013-01-05 23:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
LOUIS DE VILLIERS Kaapstad
In 2012 was die rugby-spyskaart propvol, maar die hele gedoente had eindelik maar weinig voedingswaarde. Benewens die All Blacks was ál die toetsspanne, met wisselende sukses, aan die herbou.
En daar was min “supers” omtrent Super-rugby, nou in onderbroke, onbekookte formaat met tot agt of nege spanne wat eerlikwaar niemand opgewonde maak nie. Vier van hulle speel in Australië, waar die reeks vanjaar ’n week vroeër afskop as in Nieu-Seeland of Suid-Afrika, om plek te maak vir die Leeu-toer later vanjaar deur Wallaby-land.
Australiese derby-wedstryde is meestal ’n soort stadige marteling vir rugby-liefhebbers, so die meeste van ons sal eers op Vrydag 22 Februarie begin aandag gee wanneer die Bulls gasheer speel vir die Stormers. Die volgende middag reis die Sharks, verlede jaar die keur onder die SA spanne, Bloemfontein toe, voordat die veelbesproke debuut van die Southern Kings aanbreek.
Die Oos-Kapenaars se insluiting in Super-rugby het met allerlei drome en beloftes gekom, maar tans lyk dit of die Kings minder “swart” spelers gaan kans gee as die Lions. Hulle het reeds twee oorsese spelers meer gekontrakteer as wat hulle mag – en aanvaar skynbaar Saru sal dit eenvoudig moet goedkeur.
En indien hul rugby-politiek nie te waffers lyk nie, gaan die Kings se rugby vermoedelik leliker wees. Hulle kry darem met die intrapslag op hul tuisveld te doen met die Western Force – die maklikste afspraak van hul hele seisoen.
Die Sharks is Frederic Michalak kwyt – en die verskil wat dié veteraan-losskakel aan die Franse toetsspan gemaak het, was insiggewend. Pat Lambie kry egter nou ’n kans om daai uitgeslape brein van hom nader aan die aksie te gebruik, waarby die Bokke ook sal baat vind.
Sowel die Durbaniete as die Stormers en die Bulls behoort ’n indruk te maak op die 2013-kompetisie. Die Bulls het vanjaar ’n jaar ekstra ervaring – en die Stormers kan sweerlik nie weer soveel ellende met die krukkelys hê nie, kan hulle?
Middeldeur word Super-rugby natuurlik deesdae opgeskort vir die merendeels onsinnige Junie-toetse. Die Leeu-toer deur Australië sal moontlik meer aandag lok as die driehoekige toernooie waaraan die Bokke terselfdertyd sal deelneem.
Vanjaar klim die Leeus stellig op die vliegtuig as gunstelinge. Wallaby-rugby het onder Robbie Deans in sy eie eenrigtingstraat op verdwyn en nét ’n gefokusde Quade Cooper en ’n ordentlike skrum kan iets daaromtrent verander.
Tóg, die Wallabies het verlede jaar self mank gegaan onder die beserings en hulle hét nou die dag op Twickenham afgereken met Engeland, saam met Frankryk een van die gunstelinge om Sesnasies-louere. Die Engelse het mooi gegroei deur 2012 en eindelik met die All Blacks afgereken.
* Wanneer die Britse Eilande teen Australië speel, wens ’n man heimlik albei kan verloor, maar sake by ons lyk effens meer voorspelbaar.
’n Dreigende reeks van drie toetse teen Skotland is ter elfder ure omskep in ene wat ook vir Samoa en Italië betrek.
En dan: die hoofgereg, die Rugbykampioenskap.
Daar is min mense wat teen die All Blacks sal wed om die toernooi te wen – maar hokaai! Engeland het die Nieu-Seelandse vaste vyf vasgevat, hul koppe gebruik en gesorg vir die grootste skok van 2012.
Die Springbokke se vaste vyf – vanjaar versterk met onder andere die terugkerende Bismarck du Plessis – kan gewis die oorhand oor hul Kiwi-eweknieë kry. Dis wat hierná gebeur wat die probleem is.
Kry die Bokke hul taktiek agterlangs reg, kan hulle met enige span saamgesels. Die innigste bede is dat die doellose skoppe veld-af vanjaar soos mis voor die môreson verdwyn.