Groot Roodt kry tweede asem
2012-01-14 23:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Groot, fisieke nommer 4-slot troon lank reeds uit op die Lions en die Goue Leeus se wenselys.
Daarom was daar vir die Johannesburgers geen mooier geluid as die “doef-doef” van Hendrik Roodt en sy 121?kg-raamwerk se voetstappe toe hy vroeg verlede jaar langs die Lions se oefenveld aantree nie.
Roodt (24) is ’n voormalige SA Skole-slot wie se loopbaan tot dusver ontrwig is deur beserings en ’n versuim om behoorlik sy voete by ’n unie te vind.
Ons praat hier van iemand wat as skoolseun van Lichtenburg al haastig deur die Blou Bulle opgeraap is – ’n jongeling wat eendag by Bakkies Botha sou kon oorneem.
“Maar daardie tyd was ek nog jonk en ek was nie heeltemal seker waarheen die rugby-ding my vat nie,” sê Roodt aan Rapport.
Hy was maar nóg een op ’n lang lys van Bul-slotte wat in Botha en Victor Matfield se skadu moes speel.
“Ek het toe besluit om te gaan studeer as argitek-tekenaar. Maar toe het ek ’n goeie geleentheid gekry om vir die Waratahs (in Australië) te gaan speel,” het hy oor sy rugby-terugkeer ná ’n kort sabbat gesê.
Daar is nou nie meer twyfel by Roodt dat hy iets van sy rugbyloopbaan wil maak nie. Maar tydens sy probeerslag in Australië in 2010 het alles ook nie glad verloop nie.
Hy het maar een Super-wedstryd vir die Waratahs teen die Stormers gespeel – sy enigste wedstryd in die reeks sover.
“Ek het vroeg uit my kontrak uitgekom (by die Waratahs). Ek het net gevoel my en (die (hulp-afrigter) Michael Foley se geaardhede het nie geklop nie.
“Ek was ook maar nog jonk. Maar dit was definitief die beste besluit om vir Griekwas te kom speel.”
Dis in Kimberley in 2011 waar Roodt verlede seisoen, nadat hy eers beseer was, in die Curriebeker-reeks weer begin opslae maak het.
John Mitchell het Roodt in aksie gesien – en besluit hy wil dié groot Lichtenburger in rooi-en-wit sien.
En vir Roodt is daar nou ’n geleentheid soos min.
“Ek voel baie welkom hier, veral aangesien ek soveel van die ouens ken omdat ek al soveel gereis het.
“Hier is ’n klomp ouens van Griekwas en die Bulle saam met wie ek gespeel het – en dis ’n lekker familie.
“En ja, ek het gedink hierdie is die beste plek vir my om my kans as slot te kry,” het hy oor sy aspirasies vir Super-rugby gesê.
Mitchell sê Roodt en die groentjie slot-aanwins uit die Kaap, Stephan Greeff, skakel goed by die Lions in.
“Marius Coetzer van die Pumas doen ook goed. Maar daar lê nog heelwat werk vir hulle almal voor,” waarsku Mitchell.
Daar wag steeds sterk mededinging op Roodt, met die staalbaard Wikus van Heerden wat die gunsteling is om aanvanklik die nr.4-trui in die eerste Super-wedstryd teen die Cheetahs te dra.
“My doelwit is om soveel moontlik in die beginspan te speel. Maar Wikus is nog hier. Hy is ’n ou ballie, maar hy kan jol hoor,” lag hy.
“En daar is ook nog Michael Rhodes wat baie goed is.”