‘Harde besluite’ wag op Meyer
2012-09-16 00:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Ons het altyd geweet dit gaan in die eerste jaar moeilik wees om die kampioenskap te wen.”
Met dié woorde het die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, gister aangedui dat hy besef sy span se kans om die nuwe Rugby-kampioenskap te wen, lê aan skerwe.
Kragmetings teen die Wallabies en All Blacks in onderskeidelik Pretoria en Soweto wag nou, maar selfs bonuspunt-oorwinnings sal waarskynlik nie genoeg wees om die Nieu-Seelanders van ’n elfde sukses in 17 jaar van dié Suidelike Halfronde-kompetisie te weerhou nie.
Vir Suid-Afrika om in Soweto aan te tree met ’n wiskundige kans, moet die All Blacks oor twee weke geen punte teen Argentinië verdien nie – ’n onwaarskynlike uitkoms.
“Ons moet dit nou wedstryd vir wedstryd vat. Natuurlik wou ons die kampioenskap wen, maar ons het altyd geweet dit sou moeilik wees, veral in die eerste jaar,” het Meyer gesê.
“Ons het drie wedstryde op ’n ry gespeel en die afstande wat ons moet reis, maak die kompetisie vanjaar veel taaier. Ons was reeds oral oor die wêreld, terwyl die ander spanne nou begin reis.”
Meyer glo daar is “gewis vordering” by sy span te bespeur: “Hierdie is ’n gehalte Kiwi-span wat Australië met 22-0 afgestof het. Ons het met tye baie goed teen hulle gespeel, ons het kanse geskep en druk toegepas.
“Maar ek weet dit is net wat die telbord sê wat tel.”
* In die komende week sal daar veral oor die Bok-toekoms van Morné Steyn besin moet word.
Meyer het tot dusver vertroue in Steyn behou, maar dié Blou Bul het dit nog nie met sy spelpeil beloon nie en was gister veral treurig met sy stelskopwerk.
“Ek wil nie nou vir Johan (Goosen) vir die wolwe gooi nie. Verlede week (teen Australië) het hy 10 minute gekry en dié week 25 minute.
“Maar Morné het ook al gewys hy het (soos Goosen) baie geestelike krag. Dit is goed dat Johan deurkom.
“Ek sal weer na die wedstryd gaan kyk, die emosie opsy skuif en dalk ’n paar harde besluite maak.”
Meyer sal ook ’n opname wil maak van beseerdes wat intussen weer beskikbaar word. Die stut Coenie Oosthuizen kan moontlik weer terugkeer, terwyl die vleuel JP Pietersen ook weer eersdaags behoort te kan speel.