Helde van weleer help by Sharks
2012-02-11 23:45
CHRISTO BUCHNER IN DURBAN
Eendrag maak mag en dáárom gaan die Sharks dié seisoen ’n verenigde front voorhou in hul strewe na sukses in die Super-reeks.
Ná die indrukwekkende vertoning eergisteraand op Kingspark, waarin die Boland Kavaliers met 62-0 afgeransel is, het die afrigter, John Plumtree, en verskeie van die groot geeste van ’n vorige era koppe bymekaargesit om sin te maak van dít wat die spelers opgedis het.
Onder hulle was twee oud-Bokafrigters, twee wenners van die Wêreldbeker-toernooi in 1995 én verskeie ander Bokke.
Ian McIntosh, Rudolf Straeuli, Mark Andrews, Robert du Preez, Jeremy Thomson, Ettienne Fynn en Hugh Reece-Edwards het almal hul insette met Plumtree gedeel. Die Sharks wíl vanjaar bekers wen – daarvan getuig nie net die wyse waarop die moedige Bolanders uit die pad gevee is nie, maar ook die intensiteit waarmee die wedstryd benader is.
Iets wat sommer dadelik uitstaan van dié Sharks – en wat in die Super-reeks deurslaggewend kan wees – is die diepte wat daar by die Durbaniete is.
Daar gaan ’n hewige gespook om plekke in die span wees.
“Dit is juis wat ek wil hê,” het Plumtree verduidelik. “Spelers moet nie sommer net seker wees van hul plekke nie.”
Hy het ook van die groot name van weleer betrek om hom in hul spesialis-posisies te help en sodoende die regte keuses te maak wanneer hy sy uitsoekgroep kies.
Veral Bismarck du Plessis, Frederic Michalak, Riaan Viljoen, Marcell Coetzee, Lubabalo Mtembu en Paul Jordaan was uitstekend teen die Wynboere; terwyl JP Pietersen weer uitgetroon het as buitesenter.
Tog sal Plumtree weer met dié Bok-vleuel praat, met die oog daarop om die skuif permanent te maak.
Die breier wou aanvanklik Vrydagaand se laaste litte-losmaker teen die OP Kings in Port Elizabeth pak met sy moontlike beginspan in die eerste Super-stryd teen die Bulls.
Tog het hy by navraag erken dat hy nou straks met meer as 22 spelers na die Baai sal reis.
“Ek moet eers weer gaan sit en dink wat ek gaan doen, aangesien soveel spelers gewys het hulle wil deel wees van die groep,” het Plumtree gesê.
“Dit maak sake vir my moeiliker, maar dit is ’n lekker probleem om te hê.”
* Punte: Sharks 62 (21): Drieë: Lubabalo Mtembu (2), Marcell Coetzee (2), Riaan Viljoen, JP Pietersen, Lwazi Mvovo, Bismarck du Plessis, Sbura Sithole, Paul Jordaan. Doelskoppe: Patrick Lambie (4), Meyer Bosman (2).
Boland 0 (0).