Heyneke het 'n sukses-bloudruk
2012-01-21 22:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Suid-Afrika, gee jouself ’n vuispomp, want die beste kandidaat om die Springbokke af te rig is gereed vir die taak.
Uiteindelik, want anders as in 2007, toe Heyneke Meyer deur ’n politieke opstopper uit die wedloop as Bok-breier geslaan is, waai nuwe, rugbygedrewe winde deur Saru se wandelgange – en kan die land uiteindelik rustig slaap met die wete dat ’n visioenêre afrigter met ’n bewese suksesrekord Bokrugby na ’n nuwe vlak sal neem.
Verwag dat die huidige oorhoofse rugbybaas van die Blou Bulle Bok-rugby gaan vernuwe, weer toonaangewend in wêreldrugby gaan kry en ’n bloudruk gaan skep wat vir jare suksesvol gevolg kan word.
Meyer se toekomsvisie met Bok-rugby is pragmaties, dinamies en bly geskool in die erkende waardes van die spel – harde werk, dissipline, strategiese beplanning en voortdurende vernuwing.
As ’n unieke motiveerder van spelers gaan Meyer boonop ’n generasie spelers deurbring wat vir die land en sy mense – en dán eers vir hulself – sal speel.
Een van Meyer se gunsteling-vergelykings is dat hoe harder steenkool gepers word, hoe suiwerder is die diamant wat gevorm word. Dié gesegde vertel baie van die breier se ingesteldheid op die veld en wat Springbokke onder sy vaandel kan verwag.
Hulle SAL harder werk as onder enige ander afrigter, SAL fikser as tot nog toe wees en ’n ongelooflike waarde heg aan wat dit beteken om vir die Springbokke te speel.
Meyer mergel spelers sielkundig uit en as hulle dié bruggie oorkom, kan hulle enige druk op enige vlak hanteer.
Die Bulls se Super 14-sege in 2007 se eindstryd is ’n sprekende voorbeeld daarvan.
“’n Mens waardeer iets soveel meer as jy honger is daarvoor en harder as enigiemand anders gewerk het om dit te kry,” is nóg ’n gereelde Meyer-stelling.
In die praktyk gaan dit beteken dat niemand seker kan wees van sy plek in die Springbokspan nie – en dat reputasies niks gaan beteken nie.
Meyer het nie geskroom om spelers soos Victor Matfield en Bakkies Botha te pos nie en enige speler kan sy plek verloor, hoeveel toetse hy ook al agter die rug het.
Die groot voordeel wat Meyer se aanstelling sal hê, is dat Springbokrugby vir jare daarby sal baat vind.
Die visioenêre sienings wat Meyer tydens sy aanvangsjare by die Bulls en Blou Bulle gepredik het, was toe inderdaad die tyd vooruit en het ’n rugbymoondheid geskep wat Suid-Afrikaanse rugby vir bykans ’n dekade oorheers het.
Dieselfde is moontlik by die Bokke, veral omdat Meyer, vanweë sy onlangse betrokkenheid by die junior strukture van die Blou Bulle, ’n baie duidelike idee het oor die gehalte van junior en skolerugby.
Hy kan dus nou reeds strukture in plek stel om moontlike leemtes uit te stryk en weet waar toekomstige sterkpunte in Suid-Afrikaanse rugby lê. Kortom, hy het sy vinger op die pols van die talent in die land.
Sy Achilles-hiel lê in sy afsku van politieke inmengery in die spel, maar geen speler sal ooit sy rug op Meyer draai nie. En dít verklap alles van ’n afrigter.