Hoskins óók in sop
2010-08-07 21:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Rudolph Lake in Johannesburg en Stephen Nell in Kaapstad
Die beweerde heksejag deur Nieu-Seeland en Australië teen Suid-Afrikaanse rugby het die afgelope week nóg ’n kinkel in die kabel bygekry.
Terwyl die land se rugbybase asem ophou in afwagting op die uitspraak in die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, se Sanzar-tugverhoor, het dit bekend geword dat Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), óók ’n tugverhoor in die gesig staar.
Sanzar het Donderdag ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) geskryf waarin hulle ’n verduideliking van Hoskins vra oor beweringe van “’n oorlogverklaring” deur die Kiwi’s en Aussies teen Suid-Afrika.
Rapport het verlede Sondag eksklusief oor dié beweringe deur talle SA rugbybase berig. Sanzar ondersoek die moontlikheid dat Hoskins die spel “in oneer gebring het” met sekere uitsprake in dié verband.
Te midde van dié tugverhore was daar die afgelope week nóg verdere slegte nuus vir SA rugby.
Die bekende sportwetenskaplike prof. Tim Noakes het in ’n persoonlike brief aan Hoskins gewaarsku dat die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog op ’n ramp afstuur omdat die Bokke “oud, poegaai en onfiks” is.
Hy sê “noodsaaklike stappe moet dadelik geneem word” indien die Springbokke aanstaande jaar “enigsins” mededingend wil wees wanneer hulle hul Wêreldbeker-kroon in Nieu-Seeland gaan verdedig.
De Villiers kondig vandag sy groep spelers vir die tuistoetse in vanjaar se Drienasiesreeks aan.
Noakes meen egter dit sal met die oog op die Wêreldbeker-toernooi in die Bokke se beste belang wees om verskeie van die top-spelers te laat rus eerder as om hulle aan te wend om verlore trots te probeer herwin in die oorblywende Drienasiesreeks-toetse.
Hy stel voor dat die Bokke dadelik ’n blaaskans gegee word en vir so lank as agt weke rus, waarna hulle vir ’n verdere vier tot agt weke spesiale fiksheidsprogramme moet volg.
En volgens Noakes se aanbeveling moet die Bokke aanstaande jaar in die aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi net ’n beperkte aantal wedstryde speel sodat hulle vars kan wees vir die toernooi.
Noakes het reeds in Januarie vanjaar hieroor met die Bokke gesels en De Villiers raad gegee oor hoe om die spelers te bestuur sodat hulle optimaal kan presteer in die Wêreldbeker-toernooi.
“My raad in Januarie was om vanjaar minder te speel en op kondisionering te fokus. En dan moet daar in 2011 probeer word om die Super15-reeks te oorheers en die Drienasies-toetse op eie bodem te beklink, maar soos in 2007 nie die top-spelers in die Drienasies-wegwedstryde te gebruik nie,” het Noakes die afgelope week aan Sport24 gesê.
“Jake White (vorige Bok-afrigter) se fokus was destyds om die top-22 spelers sonder beserings en in die beste toestand van hul lewens vir die Wêreldbeker-toernooi te kry. Dit het gewerk.”
Volgens Noakes moes 13 spelers in die aanvanklike toergroep van 37 nie op verlede jaar se Europese Bok-toer gegaan het nie omdat hulle deur die jaar die aanbevole speeltyd vir ’n seisoen oorskry het.
“Die hoeveelheid van daardie spelers wat hul spelpeil verloor het of vir operasies moes gaan, is ’n bewys dat die hoeveelheid rugby wat jy in ’n jaar of twee speel, bepalend is wat betref wat in die toekoms met spelers gaan gebeur,” sê Noakes.
Noakes waarsku dat Bokke soos Morné Steyn, Victor Matfield en Zane Kirchner in ’n “gevaarsone” is weens ’n volgehoue werkslading.
Ander spelers wat ook nie verder in die Drienasiesreeks moet speel nie, is Jaque Fourie, Wynand Olivier, Schalk Burger, Danie Rossouw en Jannie du Plessis.
Noakes sê dat daar tog individueel na elke speler gekyk moet word, want spelers soos Juan Smith, JP Pietersen en Bismarck du Plessis kan dalk baat vind by speeltyd. Maar die oorgrote meerderheid spelers moet geen verdere Curriebeker-rugby speel nie of nie aan die einde van die jaar na Brittanje en Ierland toer nie.
“Daar is twee oplossings. Die eerste is dat hulle glad nie verder in die Curriebeker-kompetisie speel nie. Indien hulle wel verder in dié reeks speel, moet hulle nie aan die einde van die jaar toer nie,” sê hy.
“Die spelers moet vir agt weke ononderbroke rus en dan vir minstens vier weke gekondisioneer word.”
Volgens Noakes kan die sleutelspelers wat die Wêreldbeker in 2007 in Parys gewen het, nie aanstaande jaar in Nieu-Seeland in ses agtereenvolgende wedstryde die pyp rook nie. Hulle ouderdom sal teen hulle tel.
Daarom kan dit die Bokke op lang termyn baat om nou spelers soos Duane Vermeulen, Dewald Potgieter, Gerhard van den Heever, Bjorn Basson, Alistair Hargreaves en Gary Botha kans te gee, terwyl senior Bokke ruskans gegee word.