Hy gaan wêreld platry op soek na die bestes
2012-01-28 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Heyneke Meyer gaan “na elke uithoek van die wêreld reis” om die sterkste moontlike Bokspan in die veld te stoot.
Meyer het aan Rapport gesê dat hy Bokke wat oorsee speel, wil insluit in sy plan om met elke Suid-Afrikaanse speler in gesprek te tree.
“Ek dink ek gaan my doodwerk, maar ek wil elke ou moontlik gaan sien. Ja, ek wil graag met oorsese spelers praat, sodat ek weet waar hulle staan en wat hul gesindheid is.”
Sy reistog behoort dus die Brittanje, Ierland, Frankryk en Japan in te sluit.
Fourie du Preez en Danie Rossouw speel in Japan vir Suntory Sungoliath, terwyl Jaque Fourie in Panasonic se diens is.
Gurthrö Steenkamp en Frans Steyn speel vir Toulouse en Racing Metro in Frankryk, en Ruan Pienaar vir Ulster in Noord-Ierland.
Dan is daar natuurlik nog die Chuck Norris-grappe wat die Engelse oor Schalk Brits vertel, en waarvoor Meyer gerus sy ore kan spits.
Dis dus nie vergesog dat ’n reistog oorsee ’n handjievol spelers van wêreldgehalte as Bok-aanspraakmakers in die nuwe era kan oplewer nie.
Du Preez is verlede jaar nog voor die Wêreldbeker-toernooi as die spel se voorste skrumskakel gereken, Fourie as die beste buitesenter, terwyl Steenkamp op loskopstut ’n barshou in Nieu-Seeland gespeel het.
Steyn en Pienaar se veelsydigheid maak hulle besliste Bok-kandidate.
Du Preez, Fourie, Steenkamp en Steyn kan straks help om kontinuïteit te vestig en sodoende vir Meyer die kans gee om sy visie vir evolusie in die Bok-span deur te voer.
Meyer besef dat ’n revolusie hom nêrens sal bring nie, want hy sal eenvoudig nie die tyd hê om ’n span binne ’n week te slyp nie.
“Almal wil graag ’n vars begin hê, maar jy sal regtig naïef wees as jy op ’n Saterdag met ’n totaal nuwe span speel, nadat jy hulle eers die Maandag gekry het.
“Ek het dit ervaar met die Bulls wat onder my 11 wedstryde op ’n streep verloor het. Ek het op die harde manier geleer dat jy nie op Super-vlak kan bou nie, wat nog te sê van toetsvlak.
“Jy kan nie binne drie weke nuwe beginsels en ’n spelpatroon vestig nie, want dit sal die span breek. Ek is realisties genoeg om te weet dat dinge stadig in plek gesit moet word en jy dan moet slyp tot waar jy wil kom.”