Juan dink (nog) nie aan Bok-kapteinskap
2012-01-21 22:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Springbok-flank Juan Smith hou, nes enige doelgerigte rugbyspeler, nie daarvan om in ’n kristalbal te loer nie – en sy eerste prioriteit is om so spoedig moontlik terug op die speelveld te kom.
Volgens Smith, wat binnekort sy terugkeer van ’n hakseningbesering maak, is ’n kans om die volgende Bok-kaptein te wees nie op sy agenda nie.
Dié Cheetahs-yster wil net sy aanhangers wys daar is steeds skop in sy Bok-are.
’n Nuwe era breek eersdaags in Suid-Afrikaanse rugby aan, wanneer die volgende Bok-afrigter en kaptein aangewys word.
Met Victor Matfield (uitgetree) en John Smit (oorsee) uit die prentjie, is Smith en die Stormers-kaptein Schalk Burger die sterkste kandidate om die Bokke te lei.
Maar Smith dink nie so ver vooruit nie.
“Op die oomblik is dit glad nie in my gedagtes om Bok-kaptein te wees nie, veral met die groot besering wat ek verlede jaar opgedoen het.
“Die belangrikste is om so gou moontlik terug te kom op die veld en my spelpeil te herwin.
“Sulke ander dinge plaas onnodige druk op ’n ou,” sê hy.
Die 30-jarige Smith het ná herhaalde operasies in 2011 weer die eerste keer verlede week op gras gehardloop.
Hy sal hopelik vir die Cheetahs se laaste oefenstryd voor die Super-reeks, op 11 Februarie teen die Bulls, reg wees.
Indien nie, behoort hy vir die eerste Super-wedstryd, op 25 Februarie teen die Lions, beskikbaar te wees.
“Ons is presies waar ons wil wees met die rehabilitasie en alles gaan goed,” sê Smith.
Volgens hom was hy die eerste keer as Cheetah ’n kaptein van ’n rugbyspan.
Tog is hy ’n erkende, begeesterde leier en speel die Cheetahs met ekstra geesdrif as hy daar is.
Naka Drotské, die Cheetahs-afrigter, het nog nie sy kaptein vir die Super-reeks aangewys nie, maar hy sê dis tussen die haker Adriaan Strauss en Smith.
Die 26-jarige Strauss is ’n ewe bekwame leier en het verlede jaar in Smith se afwesigheid in die Super- én Curriebeker-reeks ingestaan.
Die vraag is of Smith eers ’n kans gegun moet word om sy peil te herwin voordat hy kaptein is en of ’n nuwe kaptein (Strauss) dalk selfs ’n kans gegun moet word.
“Die besluit lê by Naka-hulle oor wie uiteindelik kaptein gaan wees. At (Strauss) was verlede jaar kaptein. My prioriteit is nou net om terug op die veld te kom,” sê Smith.