Kanniedood-Leeus
2012-08-25 23:57
As jy dit nie geweet het nie, sou jy nie kon raai dat dié Leeus-span ’n unie verteenwoordig wat van een krisis na die ander strompel nie.
Hul sege van 26-23 oor die WP in gister se Curriebeker-rugbywedstryd hier op Coca-Cola-park getuig van ’n trotse span wat, ondanks sy onseker toekoms, nie sy honger verloor het nie.
Elton Jantjies, wat dwarsdeur eenvoudig puik was op losskakel, het met sy sewende strafdoel diep in beseringstyd die wedstryd in die Lions se guns beklink.
Dit was nadat die WP se plaasvervanger-stut, Brok Harris, met twee minute oor ’n drie gedruk het wat dit laat lyk het of dié wedstryd gelykop sou eindig.
’n Laaste vasberade aanval deur die Leeus het egter die oortreding gemelk waarvan Jantjies die wenskop oorgeklits het.
Die sege was welverdiend, want buiten die eerste kwartier was die Leeus byna deurlopend baas.
Hulle was ook puik in die vaste fasette, met die WP wat strafskoppe by die skrums afgestaan en lynstane verloor het.
Tog was die WP se aanslag aanvanklik ’n grote, met ’n weerbarstige Duane Vermeulen wat gewys het dat hy reg is om eersdaags Doer Onder ’n Springbok-trui teen die bestes van Nieu-Seeland en Australië te dra.
Hy het vir die WP se eerste drie vir Gerhard van den Heever met die laaste aangee aan sy binnekant gevind.
Dít het gevolg op puik voetwerk deur die binnesenter Marcel Braché.
Die WP het die afgelope paar weke openlik verklaar dat hulle meer aanvallend wil speel, maar hulle het dit uiteindelik oordoen.
Hulle het keer op keer die bal by die afbreekpunte verloor – en die situasie het mettertyd ’n meer beheersde benadering geverg.
Maar toe was die Leeus al goed aan die terugbaklei van hul vroeë agterstand van 0-10.
Behalwe vir sy sewe strafdoele, het Jantjies ook vir Josh Strauss met ’n puik aangee gevind vir die Leeus se enigste drie, wat die telling 8-10 gemaak het.
Jantjies het daarna met nóg ’n strafskop geslaag – en ’n oënskynlik benarde situasie het skielik teen rustyd in ’n voorsprong van 11-10 vir die tuisspan ontaard.
Só het die Leeus konstant ook hul neuse voorgehou, met Jantjies wat elke geleentheid in punte omskep het.
Demetri Catrakilis het die WP binne bereik gehou en Harris se verdoelde drie moes inderdaad die laaste sê gewees het.
Die Streeptruie se dissipline het hulle egter in die steek gelaat – en dít was ’n dodelike speletjie teen Jantjies.