Omgedop!
2012-10-07 00:28
Gerdie Karstens Kimberley
Griekwas is terug in die Curriebeker-wedloop, nadat hulle gister hier op GWK-park met 37-21 die Goue Leeus se snorbaarde gepluk het.
In wat sekerlik hul beste vertoning in die kompetisie was, het die Noord-Kapenaars ’n vroeë agterstand van 0-15 omgeswaai en uiteindelik vier drieë vir daardie broodnodige bonuspunt gaan druk.
Dit was maar ’n flouerige gebrul deur die Leeus, wat vandeesweek ’n bietjie selfondersoek moet gaan doen nadat hulle in die hek geduik het teen ’n span wat as relegasie-kandidaat gebrandmerk is.
Die Blou Bulle is die Rooibontes se voorland volgende week – en daardie tuis-halfeindstryd kan dalk net in die slag bly as hulle met dieselfde spel as teen Griekwas vorendag kom.
Daar was heelparty goeie oomblikke vir die Leeus – en met die flank Cobus Grobbelaar en slot Michael Rhodes se drieë in die eerste helfte is daar gegis dat hierdie net nóg ’n struikelblok sou wees wat die verdedigende kampioen sal oorkom. Toe nie.
In wat ’n mengsel was van goeie aanvallende spel, goeie verdediging en uithou-vermoë deur Griekwas, en ongedwonge foute en verkeerde besluite op kritieke tye deur die Leeus, is die besoekers in die tweede helfte van die veld gespeel.
’n Enkele strafdoel deur die losskakel Butch James was hul enigste punte in die laaste 40 minute.
Die Leeus sou rustyd reeds gebrom het dat hulle Griekwas toegelaat het om van 0-15 na 14-18 terug te kom danksy drieë deur Lourens Adriaanse (stut) en die agtsteman, Leon Karemaker.
Maar as daar harde woorde rustyd in die Rooibontes se kleedkamer geval het, was hul afrigter, Johan Ackerman, met die eindfluitjie seker naby aan ‘n hartaanval.
Die besoekers het nie antwoorde gehad vir alles wat Griekwas in die tweede helfte opgedis het nie.
Die besoekers het probeer slim speel deur die bal rond te gooi of steekskoppies te gee, maar het meestal besit afgestaan, ’n fatale fout teen die briljantheid van spelers soos die losskakel Francois Brummer, heelagter Willie le Roux en vleuel Rocco Jansen.
Dit was Jansen wat twee keer gaan druk het om die besoekers met die kous oor die kop huistoe te stuur, een daarvan van ’n Le Roux-steekskoppie af.
* Punte:
Griekwas 37 (14): Drieë: Lourens Adriaanse, Leon Karemaker, Rocco Jansen (2). Doelskoppe: Francois Brummer (4). Strafdoele: Francois Brummer (3).
Goue Leeus 21 (18): Drieë: Cobus Grobbelaar, Michael Rhodes. Doelskop: Butch James. Strafdoele: Butch James (3).