Onbesonge Blits-held
2012-01-07 23:10
’n Goeie buitesenter het gewoonlik ’n besonderse sentermaat aan sy binnekant. Maar die lof kom selde die skeppers van kanse toe ?– diegene wat afrond, raak helde.
Mense hou daarvan om helde te skep. En dit kan nogal maklik wees om een te word.
’n Rugbyspeler kan sy heldestatus binne minder as 20?sekondes verwerf – soos toe Sibu Sithole in Mei verlede jaar ’n skouspelagtige vyfpunter gedruk het, wat die Blitsbokke in Edinburg ’n titelsege van 36-35 oor Australië besorg het.
Wat daardie heldaftige eenmanspoging ná die toeter ’n hand- én draaiboek werd maak, is dat Suid-Afrika etlike minute vroeër 7-28 agter was.
Dit is later as die Suid-Afrikaanse Drie van die Jaar aangewys.
Maar terwyl Sithole ’n oombliklike held geword het, is die speler wat Suid-Afrika binne bereik van die oorwinning gebring het, heel menslik misgekyk.
Steven Hunt het ’n driekuns aan drieë gedruk, toe dit gelyk het of die Aussies die Bokke ’n drag slae sou gee.
Met net meer as ’n minuut oor, het Hunt ’n teenstander gepypkan, ’n ander gesystap, afgestamp en gedruk.
Die telling was 29-35 en Sithole – nie Hunt nie – sekondes later ’n held.
“Dit is beslis sover die hoogtepunt van my loopbaan,” het die 23-jarige Hunt vandeesweek aan Sport24 vertel.
“’n Eindstryd is langer as gewone wedstryde, en ons het geweet ’n mens kan nie die wedstryd volstoom begin nie.
“Maar Australië het – jô, hulle het ons flenters geduik, hulle het die losskrums stukkend geslaan. Wanneer jy so moeg en seer is, skop jou harde voorbereiding in. Jy dink nie aan wat jy mag en nie mag doen nie – jy dóén net.
“Jy bereik ’n sielkundige ruimte waarin tyd stilstaan. Dán kom die drieë. Toe ons sien die Aussies trek swaar, dat hulle dood is, het daardie sielkunde ons deurgedra. Elke drie was een nader aan ’n oorwinning. Dis hoe ons gedink het – dit was ’n ingeoefende ingesteldheid,” het hy herroep.
Die Blitsbreier, Paul Treu, het voor die aanvang van die huidige Wêreldreeks gesê sy grootste bekommernis met Hunt is dat hy top-fiks by hul eerste oefenkamp opgedaag het.
“Ek is bang hy piek te vroeg of brand homself halfpad deur die seisoen uit,” het die afrigter toe verduidelik.
Hunt meen dis oor hy vir hardloop lief is.
“’n Mens doen nie sommer goed wat vir jou sleg is nie – fiksheid is selde lekker. Maar ek is ongelooflik lief daarvoor om te hardloop. Ek is nie groot nie, maar ek kan ’n bietjie hardloop.”
As Treu dus sy kommer uitspreek, is dit eintlik opregte agting.
Hunt het egter in November ’n stotterende openingstoernooi in Australië gehad en is die week daarna in Doebai weggelaat.
Vir hom was dit ’n laagtepunt. Boonop kon hy die toernooi in Port Elizabeth, sy tuisdorp, die week daarna misloop.
“Toe ek hoor die toernooi skuif van George af PE toe, het ek vir myself gesê ek mag dit nie misloop nie,” vertel hy.
Maar Treu het Hunt die Woensdag voor die Madiba-sewes ’n helse tyd op die Hoërskool Victoriapark se rugbyveld gegee.
Dit was winderig, koud en ál die spelers het foute gemaak. Maar vir Hunt se blapse het Treu oënskynlik minder genade gehad.
Toe die breier voor sy spanaankondiging langs ’n koffiekan daaroor gepols is, het hy aan Sport24 gesê Hunt druk homself eenvoudig altyd tot die uiterste.
Treu, wat soms ’n hardekwas karakter kan wees, wou sien of Hunt ná die teleurstelling in Doebai reg was om voor sy eie mense te speel.
Hunt onthou daardie oefening: “Wanneer hy jou uittrap, is dit regtig sleg.
“Dieselfde geld fiksheid – jy haat elke sekonde en dink dis onnodig. Dit voel persoonlik, maar eintlik doen hy dit met almal. Maar ná ’n swak toernooi weet jy dis eintlik wat jy nodig gehad het en waarom hy een van die beste afrigters in die land is.”
Hunt het eindelik in Port Elizabeth altesaam sewe drieë gedruk, waarvan ’n yslike vier in een wedstryd teen Kenia.
Cecil Afrika was die held op foto’s, meeste se lippe en in koerantopskrifte.
Maar in die geheel beskou, was Hunt rêrig die Blitsbokke se waardevolste speler in die Baai.
Suid-Afrika het die eindstryd met 26-31 aan Nieu-Seeland afgestaan– ’n effense suur einde aan ’n andersins perfekte toernooi.
“Dit was moeilik om te aanvaar. Maar jy moet agting hê vir sport se vermoë om die bestes in die wêreld terug aarde toe te bring. Dit was nogtans ’n ongelooflike eindstryd," het Hunt saamgevat.
Ná die onderhoud gesels Treu verder: “Weet jy wat Steven op ’n dieper vlak goed maak?
“Dat hy in eindstryde sy beste rugby speel.”
Heil, die onbesonge helde.