Onthoring
2012-09-16 00:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Gerdie Karstens in Kimberley
Daar word die laaste paar weke in die wandelgange van die Griekwaland-Wes Rugbyunie gesê die Curriebeker se staanplek daar moet afgestof word. En nou is dit nie meer blote wensdenkery nie, ná die Poubloues se sege van 49-34 gister hier oor die Blou Bulle.
Die Noord-Kapenaars het gister ses keer agter die doellyn gaan kuier vir hul derde agtereenvolgende sege teen een van die groot honde in die reeks.
En die bonuspunt wat verdien is, kan in die komende weke die verskil tussen glorie en hartseer beteken.
Die man wat kop en skouers bo sy eie troepe en die Bulle uitgestaan het was die losskakel Francois Brummer. Hy het verlede jaar die Blou Bulle vir Griekwas verruil en die 24 punte wat hy bygedra het, sal die Bulle-breier, Pine Pienaar, laat wonder waarom hy ooit toegelaat is om die Jakarandastad te groet.
Griekwas het die eerste helfte totaal oorheers, soos hul voorsprong van 26-0 ná ’n halfuur se spel boekstaaf.
Die Bulle het te veel foute gemaak en besit op die grond te maklik prysgegee – meestal deur hul eie toedoen, maar ook ’n paar maal weens die Griekwas-flank Marnus Schoeman se lang vingers.
Die Bulle se frustrasie was duidelik, veral toe die slot Grant Hattingh by die afbreekpunte wou induik om te verhoed dat Griekwas die bal gaps en in die proses sy flank Warwick Tecklenburg kis gehardloop het.
Dit was asof die Bulle aan die slaap was in die eerste halfuur en eers wakker geskrik het ná die tuisspan se derde drie.
Drieë deur die skrumskakel Rudy Paige en haker Willie Wepener het daarna aan die Poubloues se voorsprong begin wegvreet, en ná ’n waarskynlik hetige rustyd-praatjie het hulle met meer vuur uit die tonnel gedraf.
Trouens, daar was diegene wat begin dink het Griekwas kan weer in hul rustyd-groef verval.
Die Bulle het veral in die laaste 20 minute gelyk of hulle die spul gaan verongeluk, toe die vleuel Akona Ndugane en stut Werner Kruger gaan druk het. Maar die Pretorianers se vyf drieë was eindelik net te min om hulle uit die laaste plek op die puntelys te red.
Griekwas, daarenteen het nog drie vyfpunters by hul punte-fees gevoeg, met veral die senter Jean Stemmet s’n wat die harte warm laat klop het.
* Punte: Griekwas 49 (29): Drieë: Rocco Jansen, Walter Venter, Francois Brummer, Jean Stemmet, Marnus Schoeman, Richard Lawson. Doelskoppe: Francois Brummer (2). Strafdoele: Francois Brummer (4). Skepdoel: Brummer.
Blou Bulle 34 (14):Drieë: Rudy Paige, Willie Wepener, Akona Ndugane, Werner Kruger, CJ Stander. Doelskoppe: Louis Fouché (3). Strafdoel: Louis Fouché.