‘Perk TV-man in’
2012-09-29 23:26
Die televisie-skeidsregter het deesdae té veel invloed in rugby, sê John Plumtree, afrigter van die Haaie.
Hy het nadat sy span die Blou Bulle Vrydagaand hier op Kingspark met 13-12 in hul Curriebeker-wedstryd geklop het, gesê die spel word heeltemal té stadig met al die verwysings na die TV-skeidsregter.
Hy sê ook met die toenemende invloed wat die TV-skeidsregter het met die nuwe eksperimentele reëls, dit nie meer sommer net enigeen is wat agter die TV-skerm kan inskuif om beslissings te maak nie.
“In die verlede het dit gebeur dat die ouens wat soms swak skeidsregters was, eerder as TV-skeidsregters gebruik is.
“Nou is hulle omtrent net so belangrik soos die skeidsregter op die veld en moet van die beste mense gebruik word om daardie beslissings te maak, wat dikwels die uitslag van ’n wedstryd kan bepaal.”
Plumtree is ook nie oortuig sy haker, Pieter Dixon, het ’n rooi kaart verdien vir ’n skop in ’n teenstander se gesig in die 70ste minuut nie.
“Hy was wel dom en onbeholpe met sy optrede, en ek glo dit het ’n strafskop verdien, maar ek dink om hom ’n rooi kaart te gee was kras,” sê Plumtree van Johann Meuwesen se beslissing.
Wat sy span se vertoning in miserabele toestande op ’n sopnat veld betref, sê Plumtree hy is dankbaar vir die vier ligapunte, maar dat daar omtrent geen konstruktiewe rugby in die toestande gespeel kon word nie.
“Ek wil die ondersteuners bedank wat in hierdie gure weer hier kom sit het.
“Hulle is ons lojale ondersteuners, wat op geen goeie aand vir rugby nie steeds hier was vir die span.
“Die Bulle het ons voorlangs kwaai aangevat en ons verrinneweer, maar ons het staande gebly en karakter getoon.”
Oor die jong skrumskakel Cobus Reinach se speler van die wedstryd-vertoning, het Plumtree gesê dit is nodig dat hy nou sy kans gegee word om te groei en te ontwikkel, sodat hulle die volgende Super-seisoen in hom en Charl McLeod twee gevestigde skrumskakels sal hê.
“Cobus se lang skoppe met sy regtervoet was vanaand ook baie belangrik om vir ons veld te wen.
“Dalk is ons nou reeds in die halfeindronde, maar ons vat dinge stap vir stap.
“Daar is nog twee wedstryde oor voor die uitspeelstryde en ons dink nog nie eers daaraan (halfeindronde) nie.”
Pine Pienaar, die Bulle se afrigter, het erken sy span se lot is nie meer in hul eie hande nie.
“Ons harte bloei en ons voel die pyn, want ek glo ons het vanaand goed gespeel in die omstandighede en dat daar groot toewyding was.
“Tog het van die strafskoppe teen ons ons gekelder. Takties het ons goed gespeel, maar nou moet ons in die laaste twee rondes in ander spanne se oë kyk om ons gunste te bewys.
“Selfs twee oorwinnings met bonuspunte kan dalk nie eers meer goed genoeg wees om ons in die halfeindronde te kry nie.”